fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus vra vir rampverligting in droogte-geteisterde Oos-Kaap

Met die knellende droogte wat die Oos-Kaap tans ervaar, het die VF Plus die minister van landbou, Senzeni Zokwana, versoek om dringend droogtehulp aan boere in die provinsie beskikbaar te stel.

Hoewel reën die afgelope weke in dele van die provinsie geval het, is daar steeds gebiede in die Oos-Kaap wat gebuk gaan onder erge droogtetoestande.

"Die VF Plus is van mening dat die regering ‘n verantwoordelikheid het om beide landbouers en verbruikers te beskerm. Droogtehulp bly een van die belangrikste meganismes wat die regering kan gebruik om landbou te ondersteun en te beskerm," sê Wouter Wessels, VF Plus-parlementêre woordvoerder vir landbou.

'Boere in die Oos-Kaap het nou die regering se hulp nodig," sê Wessels.

"Landbou bly een van die belangrikste bydraers tot die bruto-binnelandse produk"

Vrugteboere in die provinsie is onder druk met besproeiing wat geweldig beperk is. Wolkwekers het reeds ‘n algemene versoek vir hulp gerig. Kuddes is gedurende die droogte beperk tot kernkuddes ter voorbereiding vir die moontlikheid dat die droogte sal voortduur tydens die lamseisoen in Augustus en September wanneer weiding moontlik min sal wees.

Nagenoeg 86% van die land se skaapbevolking kom in die Oos-Kaap voor.

Wessels sê die belangrikheid van vleis- en wolproduksie strek veel wyer as die provinsie met die res van Suid-Afrika wat ook afhanklik is van produsente in die Oos-Kaap.

"Landbou bly een van die belangrikste bydraers tot die bruto-binnelandse produk en die regering het ‘n verantwoordelikheid om die land se kosbaarste bronne van voedsel te beskerm.

"Dit behels onder meer om boere toereikend tydens droogtetyd finansieel te ondersteun.

"Dit sal die nagevolge van die droogte beperk en ook die verbruiker teen moontlike gevolglike prysverhogings beskerm.

"‘n Regering wat sorg vir sy boere, sorg vir sy mense. Vuisvoos verbruikers kan dit nie bekostig om nog meer te betaal vir voedsel nie.

"Indien die ANC-regering ernstig is oor voedselsekerheid, sal hy nou aksiestappe neem om boere in die Oos-Kaap en verbruikers te beskerm, Sê Wessels.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.