fbpx
Vryheidsfront Plus

ANC-faksies voer Noord-Kaapse politiek tot nuwe laagtepunt

Interne gevegte binne die ANC het die Sol Plaatje-raad wat Kimberley en omstreke bedien, tot 'n nuwe laagtepunt gevoer waar die polisie moes ingryp om lede van opposisiepartye te beskerm.

Nadat twee ANC-raadslede as burgemeester voorgestel is, het die ANC in koukus gegaan. Met hul terugkeer is die vergadering met sang en dans vanuit die openbare gallery ontwrig. In plaas daarvan om die sekuriteitspersoneeel te ontbied, is die vergadering verdaag.

Daarna is opposisielede met projektiele soos oopgedraaide waterbottels, 'n koeldrankblikkie en die afgesnyde, skerpgemaakte punt van 'n plastiekbottel bestook. Uiteindelik is raadslede onder polisiebegeleiding uit die gebou verwyder.

Hierdie is slegs die jongste in 'n reeks gebeure waarmee ANC-binnegevegte die eens rustige gemeenskap van Kimberley en Ritchie ontwrig. Dit het begin met gewelddadige betogings oor 'n nuwe kostestruktuur vir krag wat tot die voorlopige skorsing van die munisipale bestuurder en die hoof finansiële beampte gelei het.

Daarna is die voormalige burgemeester geteiken. Dit het eers tot sy onreëlmatige verwydering deur afvallige ANC-lede en sekere opposisiepartye gelei, voordat hy deur die hof in sy posisie herstel is. Daarna het hy onder druk vanuit die ANC geswig en is na die Noord-Kaapse wetgewer herontplooi. 

Met die vergadering is die ANC se Patrick Mabilo en Ingrid Koopman as raadslede ingestel, waarna voorstelle vir 'n nuwe burgemeester gevra is.

"Met die ANC se terugkeer na die raadsaal, het chaos losgebars. Terwyl raadslede liedere gesing en gedans het, het ANC-lede in die openbare galery meegedoen, maar ook dreigende gebare op opposisielede gerig. 'n Lied waarin opposisielede onder meer beveel word om te "voertsek", is gesing," së Wynand Bpshoff, VF Plus-raadslid in die Sol Plaatjie-plaaslike munisipaliteit en Noord-Kaapse-leier.

Die speaker het nie die sekuriteitsdiens ingeroep om orde te herstel nie, maar eerder die vergadering verdaag. Daarna het lede van die publiek openlike intimidasie gepleeg en opposisielede met voorwerpe bestook.

"Opposisielede het aanvanklik geweier om die raadsaal te verlaat. Nadat hulle verseker is dat geen opvolgvergadering in hul afwesigheid gehou sou word nie, is hulle deur die polisie na buite begelei. Die VF Plus het sowat tien minute later na die raadsaal teruggekeer en ANC-ondersteuners in ‘n dreigende luim aangetref. ANC-raadslede was egter nie in sig nie.

"Binnegevegte in die ANC, waarby sommige opposisiepartye hulle soms laat betrek, is besig om Kimberley groot skade te doen. Nie alleen word waargeneem in die senior poste van munisipale bestuurder en finansiële hoofbeampte nie, die pos van burgemeester is ook nou vakant.

"Dit terwyl die stad finansiële skade lei weens onbekookte toegewings oor die kragtarief om betogers tot rus te bring.

"Indien Sol Plaatje tot die lang lys van mislukte plaaslike owerhede gevoeg word, sal die skuld  daarvoor vierkant op die ANC se skouers rus," sê Boshoff.

DEEL DIT:

jongste artikels

Mediaverklarings
Armand Cloete

Premier moet ingryp by Matjhabeng-waterkrisis

Die VF Plus eis dat die Vrystaatse premier, Mxolisi Dukwana, moet ingryp by die voortslepende waterkrisis in die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit (Allanridge, Hennenman, Odendaalsrus, Ventersburg, Virginia,

LEES MEER
Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.