Die jare lange rioolbesoedeling in Addo in die Sondagsriviervallei-plaaslike munisipaliteit het die VF Plus genoop om klagte by die menseregtekommissie en die Groen Skerpioene in te dien.
Boere in die Addo-gebied wat met sitrusvrugte en vee boer, is warm onder die kraag oor die besoedelingsprobleem wat net nie opgelos word nie.
Volgens boere hou dit ʼn bedreiging in vir hul en hul werkers se voortbestaan.
Die VF Plus het self ná vele klagtes van boere ʼn oorsigbesoek aan die gebied gebring.
Daar is gevind dat riool enkeldiep in een boer se lemoenboorde vloei. Die meeste van hierdie vrugte is bedoel vir die uitvoermark en die besoedeling kan daartoe lei dat die vrugte nie uitgevoer kan word nie.
Van die riool vorm poele in Addo se laagliggende gebiede en vloei onderdeur die R335 tot in die Sondagsrivier.
Daar is ook mangate in die Nomathamsanqa-omgewing in stormwaterkanale geleë, wat aansluit by die watergebruikersvereniging se kanale wat vir die besproeiing van boorde aangewend word.
Water van dié kanale vloei af na Cezarsdam wat die Addo- en Paterson-gebiede van drinkwater voorsien.
Inwoners het al verskeie kennisgewings van die munisipaliteit ontvang dat water nie uit krane gedrink moet word nie.
Die VF Plus het self telkemale die rioolprobleem onder die munisipale bestuurders van die Sondagsriviervallei-munisipaliteit en die Sarah Baartman-distriksmunisipaliteit gebring wat bloot gelei het tot blaamverskuiwing oor wie verantwoordelikheid moet neem vir die probleem.
Intussen maak boere self planne om die besoedeling te monitor en verstoppings te verwyder.
Die voortslepende rioolbesoedeling is nie net ʼn skending van inwoners se menseregte nie, maar oortree ook omgewingswetgewing en die VF Plus eis dat daar dringend ingegryp word.