Die minagting waarmee pres. Cyril Ramaphosa en sy regering vir langer as ’n jaar Amerika se voorwaardes vir die normalisering van betrekkinge tussen dié twee lande ignoreer, begin nou ernstige, direkte gevolge inhou.
Die nuwe beleid wat Amerika se minister van buitelandse sake, Marco Rubio, pas aangekondig het, onder meer teen regeringsamptenare wat betrokke is by enige vorm van rassediskriminasie teen etniese minderhede of rassegroepe in Suid-Afrika, getuig ondubbelsinnig hiervan.
Rubio sê amptenare wat hierby betrokke is, sal nie “ongestraf” bly nie en optrede sluit visumbeperkings in, selfs vir gesinne.
Die afgelope Maandag, twee dae gelede, het die VF Plus opnuut in die media gewaarsku dat Suid-Afrika voete sleep met die vyf voorwaardes.
Die antwoord van Vincent Magwenya, pres. Cyril Ramaphosa se woordvoerder, dat daar “geen haas is” om te reageer nie omdat daar “geen sperdatum” is nie, het getuig van die regering se minagting hieroor.
In Junie vanjaar het die VF Plus ook gewaarsku die uurglas loop leeg vir Suid-Afrika nadat Amerika sy Pepfar-befondsing aan die land gestaak het.
In Maart vanjaar het die minister van internasionale betrekkinge, Ronald Lamola, Amerika se ambassadeur Leo Brent Bozell III vernederend op die rooi tapyt geroep oor sy “ondiplomatiese uitlatings” nadat hy kritiek uitgespreek het oor Suid-Afrika se ignorering van die voorwaardes.
Dit alles het dit duidelik gemaak dat die regering, met die ANC aan die stuur van internasionale betrekkinge, bloot nie wou luister nie.
Die VF Plus het ná ’n besoek aan Washington DC in Junie verlede jaar self die VSA se vyf voorwaardes aan die Suid-Afrikaanse regering oorgedra. Dit is:
• Plaasaanvalle moet as ’n prioriteitsmisdaad geklassifiseer word en meer hulpbronne moet toegewys word om dit te bestry.
• Die uitlating “Kill the Boer” moet openlik en ondubbelsinnig veroordeel word.
• Geen grondonteiening mag plaasvind sonder billike markvergoeding nie.
• Amerikaanse ondernemings moet vrygestel word van SEB-vereistes wat as ’n handelshindernis beskou word.
• Ware onverbondenheid in internasionale betrekkinge.
Volgens Rubio vernietig die Suid-Afrikaanse regering die land se ekonomie met sy “obsessiewe beheptheid met ras” en sy versuim om met plaasaanvalle, rasgegronde wetgewing en “ontmenslikende haatspraak” te handel.
Hy sê dit ondermyn ekonomiese stabiliteit en die oppergesag van die gereg, en is “heeltemal onversoenbaar” met die pilare van Amerika se buitelandse beleid. Hy doen dan ‘n “dringende beroep” op die Suid-Afrikaanse regering om “vinnig” op te tree.
Die VF Plus wil dit aan die Suid-Afrikaanse regering en veral aan mnr. Magwenya stel dat daar wel ’n duidelike spertyd is: Dit is nóú. Ná hierdie waarskuwing van Rubio kan daar nie later gesê word: “Ons het nie geweet nie.”
Amerika se versoek is billik. Dit vra dat almal in die land dieselfde behandel word, dat hul eiendom veilig moet wees en dat almal dieselfde geleenthede moet kry. Die VF Plus steun dit ten volle.
Pres. Ramaphosa het met die huidige vlaag moorde op vroue aan die Oos-Rand sy simpatie betuig en gesê dit is ‘n “nasionale krisis”, en dat die ondersoek geprioritiseer moet word. Dit is reg en goed so. Dit is wat moet gebeur en hoe ’n president moet optree.
Net so sal die VF Plus wil sien dat die president ook plaasmoorde erken, dit kritiseer en opdrag gee dat dit prioriteit geniet. Dit ontken hy egter voor die wêreld.
Die VF Plus wil soos alle Suid-Afrikaners hê dat die ekonomie moet groei en daar werk vir almal moet wees, dat strate veilig is, dat bevoegde mense in poste aangestel word en dat kinders hoop kan hê vir ’n beter toekoms.
Dit sal nooit gebeur met ‘n regering soos die ANC nie.


