Die suksesvolle skoonmaak en herstelwerk ná die onlangse vloede in Meiringspoort, Middelplaas en die De Rust-omgewing, bewys dat dringende optrede en samewerking tussen die Oudtshoorn-munisipaliteit en die Wes-Kaapse regering moontlik is.
Dieselfde spoed en wil ontbreek egter by die Grobbelaarsrivier in Oudtshoorn.
Die VF Plus het herhaaldelik gevra dat hierdie rivier dringend skoongemaak word om toekomstige oorstromings en skade aan eiendom en infrastruktuur te voorkom. Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, en die Tuinroete-distriksmunisipaliteit, steun hierdie versoek.
Die Oudtshoorn-munisipaliteit sloer egter steeds met die onderhandelinge en administratiewe prosesse om toestemming vir swaar grondverskuiwingsmasjinerie te finaliseer.
Dieselfde masjinerie is reeds suksesvol in Meiringspoort en Middelplaas gebruik. Elke verdere vertraging verhoog die risiko van ernstige skade met die volgende swaar reën.
Voorkomende skoonmaak is goedkoper as herstel ná ’n ramp.
Die VF Plus doen ’n dringende beroep op die Oudtshoorn-munisipaliteit om die uitstaande goedkeurings sonder verdere vertraging af te handel sodat die skoonmaak van die Grobbelaarsrivier onmiddellik kan begin.
Die gemeenskap sien hierdie as ‘n saak van dringendheid en is selfs bereid om soos met die eerste fase van die projek, fondse by te dra.


