Die dood van ‘n 16-jarige rower op die N2 is ’n tragiese bewys dat die “Hell Run” steeds ’n ernstige gevaar inhou vir motoriste én vir jongmense wat deur misdaadsindikate uitgebuit word.
Alhoewel daar ’n afname in voorvalle was nadat die VF Plus herhaaldelik sterker veiligheidsmaatreëls geëis het, bly die bedreiging ’n daaglikse werklikheid.
Veral pendelaars wat geen alternatiewe roete het nie, sit vas in digte verkeer en het min kans om te ontsnap wanneer hulle geteiken word.
Die VF Plus versoek dat daar gedurende spitstye ’n veel sterker en meer sigbare teenwoordigheid van die polisie en verkeersdienste langs die N2 ontplooi word, veral in gebiede waar motoriste die kwesbaarste is.
Misdaadsindikate werf doelbewus minderjariges omdat hulle weet die strafregstelsel huiwer om streng teen kinders op te tree.
Gemeenskapsveiligheidstrukture in die omliggende informele nedersettings moet daarom bemagtig word om as die oë en ore op die grond te dien en te help voorkom dat jongmense in hierdie net ingetrek word.
Die beplande N2-muur en ander maatreëls om ontsnaproetes te beperk, moet deur Sanral, die Stad Kaapstad en die Wes-Kaapse regering bespoedig word. Dit help nie dat die verskillende regeringsfere die verantwoordelikheid op mekaar afskuif nie.
Gister se voorval moet as ’n wekroep dien dat daar nie gesloer mag word totdat nóg motoriste of nóg jongmense op dié pad sterf nie.


