Die VF Plus is sterk gekant teen die voorgestelde naamsveranderinge van dorpe en geografiese plekke in die Oos-Kaap.
Die jongste dokument van die Oos-Kaapse Geografiese Namekomitee bevestig dat die komitee voortgaan met ’n proses om onder meer Lady Grey na Inkosi Makhobeni, Sterkspruit na Inkosi Mpangazi en Herschel na Inkosi Lihlongo te verander.
Die VF Plus se beleid oor naamsveranderinge is duidelik: Ons verwerp onnodige, duur en polities gedrewe naamsveranderinge wat gemeenskappe verdeel, belastingbetalers se geld mors en bestaande geskiedenis en identiteit probeer uitwis.
Staatskapasiteit en openbare fondse moet eerder aangewend word om met dringende diensleweringsprobleme, infrastruktuur, werkloosheid en armoede te handel.
’n Pleknaam is meer as net ’n bord langs die pad. Dit is deel van ’n gemeenskap se geskiedenis, erfenis en identiteit. Waar daar sterk plaaslike teenkanting bestaan, kan ’n regering nie bloot voortgaan asof daardie inwoners se stemme van geen betekenis is nie.
Die VF Plus glo dat gemeenskappe se reg op inspraak en die behoud van hul erfenis gerespekteer moet word.
Die tydsberekening en hantering van hierdie prosesse wek verder ernstige kommer. Pogings om bestaande dorpsname kort voor ’n verkiesing te verander, skep die indruk dat politieke belange en stemwerwing ’n groter rol speel as dienslewering.
Inwoners word telkens versoek om openbare prosesse by te woon en insette te lewer, maar wanneer gemeenskappe hulle teen verandering uitspreek, voel hulle dat daar nie werklik na hulle geluister word nie. Dit is onaanvaarbaar.
Die VF Plus staan vir ’n regering wat gemeenskappe respekteer, na hulle luister en hulle werklike prioriteite eerste stel.
Die party sal hierdie naamsveranderinge teenstaan en aanhou om inwoners se reg op inspraak, geskiedenis en identiteit te verdedig.


