Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Bestuurskwessies laat Witsand-ontsoutingsaanleg onbenut

Die VF Plus spreek sy kommer uit oor die huidige toestand van die Witsand-ontsoutingsaanleg, wat aanvanklik as ‘n innoverende oplossing vir die dorp se wateruitdagings ontwikkel is, maar tans blykbaar nie sy beoogde rol vervul nie.

Volgens inligting wat betrokkenes aan die VF Plus verstrek het, is die grootste uitdaging nie noodwendig die aanleg self nie, maar bestuurs- en instandhoudingskwessies in die Hessequa-munisipaliteit, wat die doeltreffende werking daarvan belemmer.

Batterye vir die aanleg se sonkragstelsel is glo sedert die oprigting daarvan nooit geïnstalleer nie. Verder word beweer dat die munisipaliteit tydens die Breederivier-vloede van 11 en 12 Mei 2026 nie die waterpomp betyds verwyder het nie, wat tot beskadigde kragkabels gelei het.

Die aanleg het tans ook nie ‘n werkende kragtoevoer vanaf die sonkragstelsel of Eskom nie, terwyl die waterinlaatpyp tydens die vloede met sand en modder toegespoel het.

Die VF Plus verneem verder dat sowat R3,5 miljoen oor die afgelope twee jaar aan instandhouding bestee is, maar dat die aanleg steeds nie ten volle operasioneel is nie. Water moes ook gedurende die Desember 2025/Januarie 2026-vakansieseisoen per watertenkwaens na Witsand vervoer word omdat die aanleg nie genoegsaam aan die dorp se waterbehoeftes kon voorsien nie.

Die koste van ontsouting, selfs toe die aanleg in werking was, is na bewering hoër as die tarief waarteen die munisipaliteit die water aan die publiek kon verkoop, wat vrae oor die langtermyn-volhoubaarheid van die huidige bedryfsmodel laat ontstaan.

Afgetrede ingenieurs van die plaaslike gemeenskap wat bereid is om hul kundigheid sonder vergoeding tot die munisipaliteit se beskikking te stel om die aanleg weer ten volle operasioneel te help kry, is beskikbaar. Die VF Plus is van mening dat sodanige samewerking ernstig oorweeg behoort te word.

Die VF Plus neem ook kennis van die voortgesette regsgedinge tussen die Hessequa-munisipaliteit en ‘n grondeienaar, mnr. Gielie de Kock, wat ‘n verdere negatiewe invloed op die aanleg het. Die ontsoutingsaanleg is op ‘n aangrensende eiendom geleë, terwyl toegang vir instandhoudingswerk daaraan oor mnr. De Kock se grond verkry moet word.

Hy het glo herhaaldelik aangedui dat hy bereid is om toegang tot sy grond te verleen, mits dit op ooreengekome voorwaardes geskied. Dit blyk asof die munisipaliteit egter verkies om die aangeleentheid deur die howe te besleg. Na bewering beloop hierdie regskoste reeds meer as R400 000 – fondse wat eerder vir herstelwerk en verbeterde dienslewering aangewend kon word.

Die VF Plus glo die Witsand-ontsoutingsaanleg bly ‘n waardevolle infrastruktuurbate wat nie afgeskryf behoort te word nie.

Die party doen ‘n beroep op die Hessequa-munisipaliteit om, in samewerking met die plaaslike gemeenskap, tegniese kundiges en alle betrokke partye, praktiese oplossings te vind om die aanleg weer volhoubaar en doeltreffend in bedryf te stel tot voordeel van die inwoners van Witsand.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.