Die VF Plus bevraagteken die verskil tussen die finansiële prentjie wat die Ekurhuleni-metro in ’n openbare verklaring geskets het en die syfers wat Donderdag in die metro se ongeouditeerde finansiële- en prestasieresultate vir die vierde kwartaal van die 2025/26-boekjaar aan die raad voorgelê is.
Luidens ’n verklaring van die metro wat op 28 Julie in die Brakpan Herald verskyn het, het Ekurhuleni se totale uitstaande krediteure aan die einde van Mei 2026 ongeveer R8 miljard beloop.
Die metro het verduidelik dat sowat die helfte daarvan lopende fakture was wat nog nie hul betaaldatums bereik het nie en het tereg gewaarsku dat ’n totale krediteurebalans nie outomaties as agterstallige skuld beskou moet word nie.
Die VF Plus aanvaar dié onderskeid, maar dit verklaar nie wat die metro se eie Junie-syfers nou wys nie.
Die verslag toon dat Ekurhuleni se totale krediteure teen 30 Junie 2026 sowat R13,26 miljard beloop het.
Dit sluit in R7,23 miljard aan Eskom, R3,11 miljard aan Rand Water en R1,11 miljard aan ERWAT. Die gerapporteerde krediteurebalans het dus binne een maand met sowat R5,26 miljard toegeneem.
Die metro se eie verslag erken boonop dat sy huidige finansiële posisie die wyse waarop uitstaande krediteure betaal word, beïnvloed weens laer inkomste-invordering.
Die VF Plus wil daarom weet wat binne een maand gebeur het dat die krediteurebalans van sowat R8 miljard tot R13,26 miljard gestyg het.
Die metro moet volledig en deursigtig openbaar maak hoeveel van die R13,26 miljard nog lopende fakture was, hoeveel reeds agterstallig, hoeveel onder formele betalingsreëlings val en hoeveel historiese skuld verteenwoordig.
Die kommer strek verder as krediteure. Die prestasieresultate toon dat uitstaande verbruikersdebiteure sowat R39,7 miljard bereik het, waarvan R31,9 miljard – meer as 80% – reeds langer as 90 dae uitstaande is.
Terselfdertyd is elektrisiteitsinkomste sowat R2,83 miljard onder begroting, terwyl die metro aan die einde van Junie slegs 20 dae kontant voorhande gehad het teenoor ’n teiken van 21 dae.
Alhoewel die metro ’n jaarlikse invorderingskoers van 90,38% rapporteer, kan ’n persentasie nie in isolasie beoordeel word terwyl miljarde rande se verbruikerskuld ophoop en die krediteurebalans groei nie.
Die VF Plus beskuldig nie die metro daarvan dat die volle R13,26 miljard agterstallige skuld is nie, maar eis dat die onderskeid volledig en deursigtig openbaar gemaak word.
Die metro moet sy openbare verklaring oor die R8 miljard krediteure aan die einde van Mei rekonsilieer met die R13,26 miljard wat vir 30 Junie gerapporteer is.
Die VF Plus sal die aangeleentheid in die finansiële-oorsigkomitee verder neem en antwoorde eis oor die krediteurebalans, die R39,7 miljard debiteureboek, die R31,9 miljard skuld ouer as 90 dae, die tekort teen begrote elektrisiteitsinkomste en die druk op Ekurhuleni se kontantvloei.
Wanneer miljarde rande ter sprake is, moet elke syfer verduidelik, elke verskil versoen en elke finansiële risiko aan die inwoners openbaar gemaak word.
Die inwoners van Ekurhuleni verdien nie net versekering dat die metro sy finansies bestuur nie – hulle verdien syfers wat dit bewys.
Die tyd is nou om die ANC uit die kussings te lig en te vervang met ’n regering wat omgee vir elke inwoner van Ekurhuleni.


