Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Departement se inmenging by Tuinroete-distriksmunisipaliteit moet ondersoek word

Die VF Plus het die openbare beskermer (OB) sowel as die ouditeur-generaal (OG) versoek om ‘n onafhanklike ondersoek te doen na die omstandighede rondom die beëindiging van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit se padagentskapfunksie asook die optrede van die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur rakende die proses.

Die versoek is juis aan dié instansies gerig om te verseker dat die aangeleentheid onafhanklik, objektief en sonder politieke beïnvloeding ondersoek word.

Dit volg op ‘n reeks gebeure wat ernstige vrae laat ontstaan oor goeie regering, aanspreeklikheid en die finansiële gevolge van besluite wat in die proses deur raadslede en die departement geneem is asook of die distriksmunisipaliteit se voortbestaan daardeur bedreig word.

Die omvangryke finansiële skade wat dit vir die Tuinroete-distriksmunisipaliteit en eindelik die belastingbetaler inhou, is kommerwekkend.

Dit is belangrik om vas te stel of verliese van bykans R3 miljoen se openbare geld asook verliese van R40 miljoen waaraan die munisipaliteit blootgestel is, voorkom kon word en of enige persoon of instelling daarvoor aanspreeklik gehou moet word.

Aandag word gevestig op die bevindings van die Musetsho Law-ondersoek, wat geskorste munisipale amptenare van enige wangedrag onthef het, terwyl dit terselfdertyd ernstige bevindings gemaak het oor tekortkominge aan die kant van die departement van infrastruktuur.

Hierdie bevindings, tesame met die verloop van sekere gebeure, regverdig ‘n deeglike en onafhanklike ondersoek.

Goeie regering berus op deursigtigheid, aanspreeklikheid en die oppergesag van die reg. Hierdie beginsels behoort sonder uitsondering op elke regeringsfeer en elke openbare ampsbekleër van toepassing te wees, ongeag politieke affiliasie.

Die inwoners van die Tuinroete verdien antwoorde oor hoe hierdie gebeure ontvou het, of openbare fondse verantwoordelik bestuur is, of daar politieke inmenging was en of grondwetlike en statutêre verpligtinge nagekom is.

Dit is veral in die lig van die bevinding van ‘n ondersoek dat die departement van infrastruktuur versuim het om sy grondwetlike verpligtinge na te kom.

Die VF Plus sal ten volle met enige ondersoek saamwerk en sal voortgaan om elke regmatige proses te steun wat daarop gemik is om die integriteit van plaaslike regering en openbare fondse teen vermorsing te beskerm.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.