Die VF Plus het met die debat oor die Gautengse departement van gemeenskapsveiligheid se begroting vir die 2026/27-boekjaar, gewaarsku dat verdere administratiewe uitbreiding, papierverslae en oorsigkomitees alleen nie misdaad in die provinsie gaan bekamp of gemeenskappe veiliger gaan laat voel nie.
Gauteng verkeer steeds in die greep van gewelddadige misdaad en wetteloosheid, wat ’n groeiende gevoel van onsekerheid onder inwoners veroorsaak.
Die VF Plus se standpunt is dat die provinsie se begroting daadwerklike veiligheid in mense se huise, skole, ondernemings en strate moet finansier, in stede daarvan om bloot planne op papier te wees.
Die party is veral bekommerd oor die departement se volgehoue swak prestasie en die totale gebrek aan aanspreeklikheid wanneer teikens nie bereik word nie.
Belastinggeld word tans vermors op burokrasie, terwyl daar ’n ernstige tekort is aan ondersteuning vir sigbare polisiëring en vinnige reaksievermoë.
Hierdie swak bestuur dwing te veel gemeenskappe om op private sekuriteit en vrywillige buurtwagte staat te maak omdat staatsinstellings heeltemal tekortskiet.
Die begroting moet dringend geherprioritiseer word. Belastinggeld moet eerder aangewend word vir meer sigbare polisiëring en beter patrolliedienste op grondvlak, moderne tegnologie, insluitend geïntegreerde geslotekring televisienetwerke, en intelligensiegedrewe misdaadbekamping.
’n Verdere groot leemte is dat die samewerking tussen die departement, polisie, metro-polisiedienste, munisipaliteite en gemeenskapspolisiëringsforums tans gefragmenteer en onvoldoende is.
Sonder ’n daadwerklike, geïntegreerde veiligheidstrategie sal misdaad bloot die oorhand behou.
Gauteng kan nie nóg ’n jaar van planne, verskonings en onhaalbare doelwitte bekostig nie. Inwoners verdien daadwerklike optrede teen misdaad, streng aanspreeklikheid vir amptenare se swak prestasie en die herstel van vertroue in die oppergesag van die reg.
Die VF Plus sal onverpoosd voortgaan om sy effektiewe waghondrol in die wetgewer te speel.
Die party sal volgehoue druk uitoefen vir praktiese oplossings, fiskale verantwoordbaarheid en meetbare resultate om Gauteng weer veilig te maak.


