(Parlementsdebat: 30ste herdenking van die Grondwet)
Suid-Afrika se Grondwet bied wel beskerming teen vergrype. Die feit dat daar soveel pogings is om dit aan te pas om byvoorbeeld onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, dien as bewys hiervan.
Die Grondwet is nie in klip gekap nie. Dit is ‘n lewende dokument en indien dit ten volle na letter en gees toegepas word, sal dit almal akkommodeer en beskerm.
Die ANC is te lank toegelaat om dit te plooi soos dit hom gepas het en dit klink soms asof dié party die Grondwet alleen opgestel het. Dit is nie waar nie. Dit was ‘n proses waaraan baie, ook die VF Plus, deelgeneem het.
So kon ek namens die party ‘n aandeel hê in onder meer artikel 185 oor die kommissie vir die bevordering en beskerming van die regte van kultuur-, godsdiens- en taalgemeenskappe.
Dit is belangrik dat ‘n grondwet deur die mense van ‘n land vir dié mense geskep moet word en aanduidend moet wees van dít wat in mense se harte en gedagtes omgaan.
‘n Grondwet kan wel van tyd tot tyd aangepas word indien daar ‘n geldige behoefte en rede is. Dit is nie finaal nie. Tog blyk dit dat sekere partye dit nie net wil verander nie, maar grootliks wil wegdoen daarmee.
‘n Voorbeeld is die EFF wat private eiendomsreg in geheel wil skrap. Dit terwyl dié party se leier eiendom van meer as R35 miljoen besit. Dit maak dit duidelik dat eiendomsreg sekere mense soms pas en ander kere weer nie.
Suid-Afrika se Grondwet is veronderstel om nasiebou en sosiale kohesie onder almal te bevorder. Die vraag is of dit wel daarin geslaag het om ‘n verenigde nasionale identiteit te skep.
Dit is wel so dat sommige mense die indruk kry dat hul behoeftes en aspirasies ongeag ‘n grondwet geminag word.
Ongelyke behandeling oor sekere gebeure in die verlede kan as voorbeeld genoem word. Daar is tans regsaksies aan die gang teen sekere persone oor beweerde vergrype terwyl ander oor die hoof gesien word. Dit dui op bevooroordeling.
Hieroor het die tussentydse Grondwet dit duidelik gemaak dat daar wedersydse begrip moet wees en nie wraak nie, herstel en nie vergelding nie, ubuntu en nie viktimisering nie.
Is dit wat alle mense in die land ervaar? Indien nie, is dit onregverdig. Die Grondwet is geskryf om almal gelyk en regverdig te behandel.
Daar is sekere ruimtes in die Grondwet wat nog nie ten volle benut en uitgebou is nie. Indien dit wel gebeur, sal dit tot ‘n groot mate meewerk om sosiale kohesie te bevorder en daartoe bydra dat alle gemeenskappe, ook minderhede, geakkomodeer voel.
‘n Nuwe regering kan help om hierdie gees van versoening te laat leef.


