Die VF Plus het tydens ’n spesiale raadsvergadering van die eThekwini-metro dit duidelik gemaak dat die party nie die voorgestelde 2026/27-begroting kan steun nie.
Die party het beswaar aangeteken teen die swart ekonomiese bemagtigingsbeleide wat sekere politici bevoordeel, sowel as die tariefverhogings wat ekstra druk op inwoners plaas.
Die voorgestelde verhogings sluit onder meer in ’n styging van sowat 2,5% in eiendomsbelasting, 9% in elektrisiteit en 10% in water.
Toegang tot voldoende water is ’n basiese mensereg, maar die feit dat meer as die helfte van die metro se water weens lekkasies en ander faktore verlore gaan, maak dié verhoging onaanvaarbaar.
Die GO!Durban-busprojek het sedert 2012 al meer as R9 miljard gekos, maar bied steeds geen betekenisvolle alternatiewe vervoer vir pendelaars nie.
Baie inwoners moet steeds drie taxi’s gebruik om by hul werkplekke uit te kom, terwyl die metro die afgelope jaar slegs sowat twee kilometer- pad behoorlik kon teer.
Die VF Plus het verder gewaarsku dat die onwettige toestroming van mense groot druk op die metro se infrastruktuur plaas
Die party het ook sy kommer uitgespreek oor die metro se uitstaande debiteure, wat die afgelope drie jaar tot meer as R45 miljard gegroei het.
Dit is duidelik dat die ANC nie langer vertrou kan word om die metro suksesvol te bestuur tot voordeel van sy inwoners nie.
Op 4 November het inwoners die geleentheid om saam met die VF Plus ʼn positiewe verskil in eThekwini teweeg te bring.


