Die VF Plus het sy stryd teen die groeiende wetteloosheid van taxiverenigings in Mpumalanga verder verskerp.
Tydens die jongste oorsigbesoek van die Mpumalanga-wetgewer se portefeuljekomitee vir gemeenskapsveiligheid aan die polisie se provinsiale hoofkantoor, het die party die kritieke kwessie van onwettige taxipatrollies weer pertinent ter tafel gelê.
Die VF Plus het dit beklemtoon dat geen persoon of organisasie, insluitend taxiverenigings, bo die wet verhewe is nie.
Die arrogante houding van leiers soos die voorsitter van Santaco in Mpumalanga, mnr. Fanyana Sibanyoni, wat openlik sê dat die vereniging die reg het om motoriste te stop en saamrygeleenthede te verhinder, het die grondslag gelê vir die huidige skrikbewind op die provinsie se paaie.
Patrolliegroepe dwing motoriste met lewensgevaarlike taktiek van die pad, eis onregmatige boetes en gebruik geweld om ’n monopolie oor vervoerroetes af te dwing.
Baie voertuie en bestuurders werk sonder geldige permitte, terwyl intimidasie en afpersing aangewend word om mededingers uit te skakel.
Hoewel die LUR vir gemeenskapsveiligheid, mnr. Jackie Macie, reeds onderneem het om die probleem te ondersoek, is woorde sonder dade betekenisloos.
Die owerhede se traagheid om mense in hegtenis te neem, moedig hierdie taxi-mafia bloot aan om hul gewelddadige taktiek voort te sit.
Die VF Plus eis die onmiddellike ontbinding van alle onwettige taxipatrollies, die strafregtelike vervolging van elke persoon wat betrokke is by kapings, intimidasie en afpersing, asook ’n moratorium op nuwe lisensies en die intrekking van bestaande lisensies van verenigings wat hulle aan hierdie wetteloosheid skuldig maak.
Suid Afrikaners verdien waardigheid en veiligheid op openbare paaie.
Die VF Plus sal nie sy druk verslap in die wetgewer totdat die owerhede besef dat wet en orde nie opsioneel is nie — ook nie vir die taxi bedryf nie.


