Die gevaarlike situasie in Camdenlaan in Ermelo waar twee lede van die publiek probeer het om slaggate met sand te vul en bourommel in die ryvlak gepak het om verkeer te “reguleer” in ruil vir geld, is ʼn direkte gevolg van die Msukaligwa-plaaslike munisipaliteit se sistemiese diensleweringsversuim.
Die situasie was lewensgevaarlik vir motoriste, aangesien die persone boonop vermoedelik onder die invloed van bedwelmende middels was. Die rommel op die pad het ook ’n ernstige gevaar geskep.
Die polisie is ontbied en die persone is van die toneel verwyder.
Camdenlaan, ’n kritieke skakel na die N17 en Morgenzon, verval weens ’n gebrek aan instandhouding en vragmotors se onbeheerde gebruik van die roete.
Ten spyte van die VF Plus se herhaalde eise dat daar strenger teen vragmotors opgetree moet word wat van Camdenlaan gebruik maak en van die aangewese roetes afwyk, weier die ANC-beheerde munisipale bestuur om enige verantwoordelikheid te aanvaar.
’n VF Plus-mosie wat op 11 Desember 2025 hieroor by die munisipale raad ingedien is oor die versuim om vrae oor hierdie kwessies te beantwoord, is deur die ANC verwerp met die verskoning dat dienslewering op standaard is.
Die realiteit op die grond vertel egter ’n ander storie. Paaie is onveilig, vragmotors ry waar hulle wil en opportuniste gebruik swak paaie om motoriste te teister.
Die VF Plus sal voortgaan om die munisipaliteit tot verantwoording te roep vir hierdie infrastruktuur-ineenstorting.
Dit is nou belangriker as ooit dat inwoners met die komende munisipale verkiesing die VF Plus steun wat infrastruktuur-instandhouding en openbare veiligheid eerste stel.


