Die Umkhonto we Sizwe Party (MK) is klaarblyklik vasbeslote om kernbepalings van die grondwetlike skikking van 1994 ongedaan te maak.
Dit lei ‘n mens af uit die aankondiging in die Staatskoerant van 27 Maart 2026 oor die skrapping van artikel 235 oor selfbeskikking.
In ‘n mediaverklaring van 7 April 2026 verklaar dié party ook dat hy artikel 25 oor eiendomsreg wil wysig, sodat dit uitdruklik vir onteiening sonder vergoeding ter wille van grondhervorming voorsiening sal maak.
In die vroeë jare van 1990 het die wit minderheidsregering oortuig geraak dat sy bewind nie meer volhoubaar was nie. ‘n Grondslag vir ‘n nuwe bedeling is hoofsaaklik tussen die ANC en die destydse regerende Nasionale Party (NP) uitgewerk.
Die NP het sy aandrang op groepsregte prysgegee en geskik vir ‘n een-mens-een-stem-demokrasie, met ‘n Handves van Menseregte wat groepsregte per implikasie moes beskerm. Die ANC moes van nasionalisering van alle grond, myne en banke, afstand doen en ‘n markekonomie aanvaar.
Afrikanergroepe wat nie geglo het dat ‘n menseregtehandves voldoende was om as volk in Afrika te oorleef nie, kon die hele skikking verongeluk.
Dit het tot ‘n proses gelei wat uitgeloop het op artikel 235 van die 1996-Grondwet wat die reg tot selfbeskikking vir ‘n deel van die bevolking erken en die verwesenliking daarvan wettig.
Dit is bekend dat die ANC hierdie toegewing teësinnig gemaak het en dit sedert bewindsaanvaarding so ver moontlik geïgnoreer het.
Die MK, wat homself aanbied as ‘n party wat die “onvoltooide rewolusie” van 1994 wil voltooi, stel dus sy visier op eienaarskap van grond sowel as selfbeskikking.
Oor artikel 235 kan openbare kommentaar reeds aan speaker@parliament.gov.za gestuur word. Die VF Plus en ander groot instellings sal aan die proses deelneem, maar moedig die publiek en elke moontlike vereniging en organisasie aan om dieselfde te doen.
In die ontleding van openbare deelname word elke voorlegging aangedui as vir of teen ‘n bepaalde voorstel. Selfs al is ‘n enkele bydrae teen die wetsontwerp die werk van talle kundiges en al beslaan dit honderde goed geformuleerde bladsye, is dit net een voorlegging.
Aan die ander kant, ‘n duisend voorleggings van net een sinnetjie ten gunste daarvan, maak die uitslag ‘n duisend teen een. Elkeen se inset is dus belangrik.
Die VF Plus dink nie dat hierdie pogings van MK sal slaag nie, maar dit verg steeds dat alles in die stryd gewerp moet word.


