Die geweldige groei van die VF Plus oor die laaste maande en die aansluiting van duisende nuwe lede het vandag verdere momentum gekry met die besluit van Referendum Party om te ontbind en sy gewig by die VF Plus in te gooi.
Talle ander partye het in die verlede al besluit om te ontbind en by die VF Plus aan te sluit omdat hulle die party gesien het as die beste en mees volhoubare voertuig om hul ideale te bereik.
Die Referendum Party, wat op selfbeskikking gefokus het, het nou ook ’n nuwe tuiste gevind by die VF Plus – die party wat elke dag opstaan vir minderheidsregte, selfbeskikking en ’n veilige toekoms vir almal wat in Suid-Afrika woon en werk.
Volgens dr. Corné Mulder, leier van die VF Plus, raak dit toenemend duidelik dat kiesers die VF Plus ervaar as ‘n standvastige en beginselvaste party wat ware oplossings bied vir die land se probleme en ekonomiese uitdagings.
Hy het gesê die VF Plus is die aangewese voertuig vir alle kiesers wat ontnugter geraak het met partye wat meer na hul eie belange omsien as na die belange en toekoms van Suid-Afrika en al sy mense.
Die party bied oplossings vir almal wat smag na ‘n werk, veiligheid en ’n beter toekoms vir hul kinders.


