Die moord op Karin van Aardt (64) verlede Vrydag naby die lughawe in Kaapstad, is ‘n bewys van die tragiese werklikheid van geweldsmisdaad in Suid-Afrika waar misdadigers weens ‘n gebreekte strafregstelsel geen ontsag meer vir reg of lewe het nie.
Dit dien terselfdertyd as bewys dat die owerhede klaarblyklik wegkyk eerder as om kragdadig op te tree en stappe te neem om misdadigers met alle middele tot hul beskikking uit te roei, selfs al pleit ‘n misdaadvoos gemeenskap om beskerming.
Drie weke gelede het die VF Plus ‘n sterk mediaverklaring uitgereik juis oor die geweld en wetteloosheid op paaie om Kaapstad se internasionale lughawe. Die opskrif het gelui: “Dringende optrede nodig om gewelddadige aanvalle en klipgooiery op N2 en R300 te stop”.
Die party het gevra dat alle rolspelers – van die stad, die provinsie, Sanral en die polisie – hande moet vat en saamwerk om oplossings te vind en dat hulle moet ophou om die vinger na ‘n ander te wys oor wie se plig dit is. Dit is almal se verantwoordelikheid, dit raak almal.
Die VF Plus het selfs praktiese en uitvoerbare voorstelle aan die hand gedoen oor voorkomende optrede, soos die herstel van beskadigde snelwegomheinings, die aktivering van stukkende CCTV-kameras en die ontplooiing van permanente gewapende patrollies by hoë risiko-gebiede – ook waar mev. Van Aardt vermoor is.
Drie weke later het niks gebeur nie. Nie ‘n erkenning van enige aard dat daar ‘n probleem is nie. Geen aanduiding dat selfs net kennis geneem word van die oproep om optrede nie. Geen plan, geen poging. Net stilte.
Dit is wat menselewens werd is in Suid-Afrika.
Maar die probleem is veel groter en wyer. Die slagting en misdaadgolf by die lughawe is tekenend van wat in die res van die land gebeur. Optrede en voorkoming is daarom nie meer ’n keuse nie, maar ’n noodsaaklikheid.
Die VF Plus het gewaarsku dat elke gebreekte heining en elke onbewaakte robot en brug in die lughawe-gevaarsone ’n uitnodiging is tot die volgende aanval.
Dit is geïgnoreer.
Die VF Plus het gewaarsku dat daar verdere aanvalle en bloedvergieting in dié omgewing sál wees en dat die bloed van dié onskuldige mense op die hande sal wees van diegene wat versuim het om op te tree.
Daar is gemiddeld sowat 70 moorde daagliks in Suid-Afrika – ‘n blote fraksie van die aanrandings, geweld, pogings tot moord, verkragtings en ander geweldsmisdaad.
Misdaad is nie net ‘n krisis nie, dit is ‘n noodsituasie. Die werklikheid is egter dat Suid-Afrikaners só afgestomp geraak het dat hierdie slagting bykans as normaal beskou word.
Dit is nie normaal nie. Dit is verkeerd en die tyd het aangebreek dat daar met erns en felheid opgetree word. Geen straf is te erg om vredeliewende en wetsgehoorsame burgers te beskerm nie.


