Ekurhuleni-metro se primêre gesondheidsdienste besig is om in te stort.
Dít blyk duidelik uit die eerste kwartaalverslag van die departement van gesondheid en maatskaplike ontwikkeling.
Luidens dié verslag word klinieke uit vervalle infrastruktuur bedryf en daar is ʼn ernstige personeeltekort en gebrek aan noodsaaklike mediese toerusting wat veroorsaak dat die metro se 77 klinieke nie meer basiese gesondheidsorg aan inwoners kan verskaf nie.
Die mees ontstellende bevinding is die bevestiging van die Gautengse provinsie dat daar geen moratorium op die vul van gesondheidsvakatures bestaan nie.
Dit weerspreek die metro se bewering dat provinsiale beperkings aanstellings verhinder. Dit is nou duidelik dat die metro se leierskap die raad en die publiek mislei het om die skuld op provinsie te plaas vir ’n krisis wat Ekurhuleni self met begrotings- en prioriteitsbesluite geskep het
Ekurhuleni word nie verhinder om personeel aan te stel nie, maar verkies om dit nie te doen nie.
Die waarheid is nou onmiskenbaar dat die uitvoerende gesag weier om klinieke te prioritiseer terwyl inwoners ly.
Hoewel die provinsiale mandaat onderbefonds mag wees, keer niks die metro om sy eie begroting aan te wys vir noodsaaklike personeel, toerustingvervanging of dringende instandhouding nie.
Die metro se weiering om dit te doen, weerspieël ’n bewuste beleidskeuse wat die kwesbare inwoners in gevaar stel.
Die ineenstorting van gesondheid en maatskaplike ontwikkeling is nie ’n burokratiese struikelblok nie, dit is ’n stelselmatige bestuursmislukking.
VF Plus het tydens die raadsvergadering die volgende geëis:
• ’n Toegewysde munisipale befondsingsstroom om alle kritieke kliniekposte sonder uitstel te vul.
• Noodingryping vir toerustingverkryging en instandhouding van al 77 klinieke.
• ’n Omvattende omkeerstrategie vir die departement met meetbare prestasie-aanwysers.
• ’n Samewerkende bestuursplan met die provinsie wat duidelike verantwoordelikhede vaslê en verdere skuldverskuiwing voorkom.
• Aanspreeklikheid vir amptenare en politieke ampsdraers wat hierdie krisis laat eskaleer het.
Die inwoners van Ekurhuleni stel nie belang in verskonings nie. Hulle wil weet of hulle ’n verpleegster kan sien, hul medikasie kan kry en waardige mediese sorg kan ontvang.
In hierdie stadium is toegang besig om in duie te stort en hierdie administrasie moet verantwoordelikheid aanvaar. Dit is nie ’n finansiële probleem nie, dit is ’n politieke keuse.
Die VF Plus bly daartoe verbind om te veg vir deursigtigheid, aanspreeklikheid en ’n gesondheidsorgstelsel wat kwesbare inwoners beskerm – nie een wat verlam word deur nalatigheid, wanbestuur en misleidende openbare narratiewe nie.


