Amerika se minister van buitelandse sake, Marco Rubio, het gister in ‘n skerp bewoorde verklaring gewaarsku dat Amerika se geduld met Suid-Afrika en dié land se openlike uittarting van Amerika, breekpunt bereik het.
Rubio se verklaring maak dit duidelik dat Amerika se oordeel oor Suid-Afrika nie meer bloot ‘n diplomatieke skermutseling is nie, dit is ‘n veroordeling van ‘n regering wat die geduld van die wêreld se supermag tot die uiterste beproef het.
Rubio wys onder meer daarop dat Suid-Afrika se regering onder die ANC lank reeds sistematies anti-Amerikaanse sentimente toon wat in die laaste jare vererger het.
Selfs ná pres. Donald Trump se persoonlike boodskap aan pres. Ramaphosa in die Withuis op 21 Mei vanjaar, het die regering nie ‘n enkele toegewing gemaak nie, maar eerder daarmee volhard om Amerika uit te tart.
In sy verklaring praat Rubio reguit oor die ANC se radikale agendas, korrupsie, venynige griewepolitiek en slagoffermentaliteit wat wys hoe Suid-Afrika se leierskap nie net sy eie mense in die steek laat nie, maar ook probeer om die Verenigde State te ondermyn.
Rubio beskryf die pas afgelope G20 in Suid-Afrika as ‘n “oefening in venyn, verdeeldheid en radikale agendas”. Nogtans het pres. Ramaphosa met groot bravade daarop gereageer en dit selfs as ‘n “triomf” besing.
Pres. Ramaphosa was “kritities” teen pres. Trump se besluit om Suid-Afrika by die volgende G20 uit te sluit, hy het Trump se bewerings oor geweld teen Afrikaners en onteiening sonder vergoeding as “onwaar” afgemaak en voorgegee hy het Amerika “op sy plek gesit” deur Suid-Afrika se optrede.
Die media – van die CNN tot plaaslike uitgewers – het hierdie “bravade” met luide applous begroet en dit as ‘n “dapper standpunt” teen Trump geprys.
Terselfdertyd is gerieflik vergeet dat die G20 onder Suid-Afrika se voorsitterskap gefokus het op klimaatsverandering, diversiteit en hulpafhanklikheid, eerder as ekonomiese groei. Hiedie agendas het niks met werklike, direkte voorspoed te doen nie.
Rubio skryf hierdie houding is “naïef en selfvernietigend”. Indien Ramaphosa en die ANC dink hulle kan Trump en Amerika intimideer of “op sy plek sit” deur vriende te maak met terroriste en diplomatieke sabotasie, is hulle verkeerd.
Rubio sê voorts Suid-Afrika het die tydperk ná die Koue Oorlog betree met “sterk instellings, uitstekende infrastruktuur en wêreldwye welwillendheid” onder Nelson Mandela.
“Ongelukkig het Mandela se opvolgers versoening vervang met herverdelingsbeleide wat belegging ontmoedig en Suid-Afrika se talentvolste burgers na die buiteland dryf.
“Rassekwotas het die privaat setor verlam terwyl korrupsie die staat bankrot gelaat het. Die radikale ANC-geleide Suid-Afrikaanse regering probeer om sy eie burgers en die Verenigde State as sondebokke vir (sy eie) mislukking voor te hou”.
Hy sê Amerika het om hierdie redes besluit om die deur vir Suid-Afrika toe te maak totdat Suid-Afrika besluit om te verander. Dan sal Amerika weer vir die land “‘n stoel aan die tafel hê”.
Suid-Afrika het die afgelope jare herhaaldelik met Amerika se grootste vyande geknoei. Noue bande is met Iran aangeknoop, Hamas-simpatiseerders is onthaal en volgens Amerika is selfs wapens aan Rusland verskaf tydens die Oekraïne-oorlog.
Nadat Amerika Suid-Afrika in 2024 gewaarsku het oor onwettige wapenverskepings na Rusland, het die ANC volgehou met sy sogenaamde beleid van “nie-gebondenheid” – bloot ‘n dekmantel vir pro-Russiese en -Iranse samewerking.
Suid-Afrika het Israel by die Internasionale Strafhof aangekla van volksmoord, terwyl Hamas se terreur geïgnoreer is. Daarbenewens was ‘n ambassadeur soos Ebrahim Rasool openlik anti-Amerika.
Hoe slegter dit in Suid-Afrika gegaan het, hoe minder wou die ANC-regering die verantwoordelikheid neem vir die land se ekonomiese verval, korrupsie of rasgegronde kwotas op elke gebied. Selfs Amerika word nou verkwalik vir die ANC se mislukkings.
Suid-Afrika moet ag slaan op hierdie wekroep van Amerika. Die ANC moet sy radikale pad laat vaar, of Suid-Afrika sal toenemend geïsoleer word.
Indien die ANC nie tot ander insigte kan kom nie, lê die finale antwoord by die Suid-Afrikaanse publiek om by die stembus die nodige verandering te bring om Suid-Afrika weer in ‘n wenland te omskep.


