Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Infrastruktuurprobleme in Pretoria-Noord kan nie langer geduld word

Inwoners in dele van Pretoria-Noord en Akasia is ontsteld omdat dié gebied vir die afgelope twee weke vir etlike uur per dag sonder krag is.

Verskeie inwoners dreig om nie hul diensterekeninge te betaal indien die situasie nie spoedig aangespreek word nie.

Hulle kla ook oor sypaadjies wat onbegaanbaar is.

Die VF Plus het in ‘n skrywe aan die burgemeesterskomiteelid vir behuising en menslike nedersettings en voorsitter van streek 1 wat diensleweringsaangeleenthede hanteer, Aaron Maluleka, gesê dat die diensleweringsprobleme onaanvaarbaar is en aangespreek moet word.

Ou infrastruktuur en die elektrisiteitsnetwerk wat nie onderhou word nie, is van die grootste oorsake van die voortdurende kragonderbrekings. Die onderbrekings word veral ná stormweer ondervind.

Die VF Plus het in die skrywe daarop aangedring dat die metro in sy 2026/27-begroting voorsiening moet maak vir die opgradering van kraginfrastruktuur in die gebied.

Die party het Maluleka ook daarop gewys dat die sypaadjies in Pretoria-Nood en Akasia ʼn veiligheidsrisiko vir voetgangers is en dring daarop aan dat werkers uitgestuur moet word om die plaveisel te vervang of te herstel.

Dit is onregverdig dat inwoners belasting betaal, maar gereeld infrastruktuurprobleme ondervind. Baie mense werk vanaf hul huise en het krag nodig om hul verpligtinge na te kom.

Die VF Plus sal druk op die metro en veral Maluleka plaas om die situasie aan te spreek en te sorg dat die gebied se krag herstel word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.