Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Nelson Mandelabaai huiwer weer op rand van waterkrisis

Die Nelson Mandelabaai-metro (NMBM) sal sy sokkies moet optrek om die soveelste dreigende waterkrisis af te weer.

In net die eerste kwartaal van die 2025/26-finansiële jaar het 19.27 miljoen kiloliter se nie-inkomstewater verlore gegaan wat neerkom op 58% van metro se watervoorraad.

Dit is die gevolg van die voortdurende verval van infrastruktuur, gekombineer met ’n gebrek aan beplanning en onderhoud. Hierdie faktore dryf die metro al dieper in ’n noodtoestand.

Operasionele mislukkings wat gebarste pype, foutiewe pompstasies tot kragonderbrekings en stadige opgraderings aan waterbehandelingsaanlegte insluit, vererger die situasie.

Hierdie probleme bevestig dat die metro ʼn reaksiegedrewe benadering volg wat net brande probeer blus sonder om die werklike oorsake van waterverliese aan te pak.

Die gevolg is dat reservoirs in groot dele van die NMBM sukkel om te herstel, wat inwoners, ondernemings en die plaaslike ekonomie in ’n kwesbare situasie laat.

Die hoë waterverbruik vererger die druk. Die daaglikse vraag het onlangs tot 400 miljoen liter gestyg, terwyl die stelsel oorspronklik net vir 280 miljoen liter per dag ontwerp is. Met die somerseisoen en ’n toestroming van besoekers voor die deur, gaan die netwerk nóg verder onder druk kom.

Intussen werk die Nooitgedacht-aanleg op verminderde kapasiteit weens opgraderings, wat produksie tot tussen 160 en 180 miljoen liter per dag laat daal het.

Die VF Plus dring daarop aan dat die metro dringend ’n volhoubare en gestruktureerde waterinstandhoudingsprogram in werking stel wat gegrond is op deeglike beplanning, gereelde onderhoud en betekenisvolle kapitaalbeleggings.

Sonder ’n langtermynstrategie sal die NMBM vasgevang bly in ’n eindelose siklus van waterkrisisse.

Die party doen ook ’n beroep op inwoners om water spaarsamig te gebruik en lekkasies of probleme onmiddellik aan te meld om verdere verliese te beperk.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.