Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Hande moet gevat word om te keer dat onteiening sonder vergoeding in Ekurhuleni die norm word

Dit is belangrik vir alle rolspelers om hande vat om te verhinder dat die Ekurhuleni-metro se poging om grond ter waarde van sowat R30 miljoen sonder vergoeding te onteien, ‘n regspresedent skep.

Die stuk grond van 34 ha by Driefontein in Boksburg behoort aan Business Venture Investments 900 (BVI 900). Dié maatskappy betwis nie die onteiening nie, maar die nul-vergoeding wat aangebied word.

Die saak, wat direk betrekking het op artikel 25 van Suid-Afrika se Grondwet oor eiendomsreg, word in Februarie aanstaande jaar aangehoor voor die Johannesburgse hooggeregshof.

Die VF Plus sal in die lig van die erns van die saak skakel met organisasies soos die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai), die Transvaalse Landbou-unie (TLU), Sakeliga en ander belangegroepe om optrede te koördineer.

Hierdie saak laat vrae ontstaan oor die openhartigheid van die ANC en pres. Cyril Ramaphosa oor die realiteit van onteiening sonder vergoeding.

Enkele maande gelede het pres. Ramaphosa gesê Suid-Afrika, net soos die Verenigde State en ander lande, het nog altyd onteieningswette gehad wat die behoefte aan openbare gebruik van grond moet balanseer met die beskerming van die regte van eiendomseienaars.

Hy het teenoor pres. Donald Trump ontken dat onteiening sonder vergoeding in Suid-Afrika plaasvind en het gesê hy “sien uit” na bilaterale samesprekings met die Trump-administrasie om ‘n “gemeenskaplike begrip” oor die aangeleentheid te bereik.

Intussen het pres. Ramaphosa reeds die nuwe Onteieningswet onderteken wat voorsiening maak vir nul-vergoeding. Hy het met die ondertekening gesê dit is ‘n eerste stap na “transformasie en grondhervorming”.

Hierdie onteiening in Ekurhuleni maak dit duidelik dat die president se woorde nie ydel is nie en dat geen private grond in Suid-Afrika meer veilig is nie. Dit maak dit ook duidelik dat hy nie oop kaarte met president Trump speel nie.

Die VF Plus sal seker maak dat die Amerikaners deeglik ingelig word oor die toedrag van sake. Hierdie is ‘n tasbare bewys dat eiendomsreg in Suid-Afrika hoegenaamd nie seker is nie, ongeag die Grondwet se bepalings.

Die VF Plus wil pres. Ramaphosa ook herinner ook aan die voorwaardes van pres. Trump se administrasie oor die herstel van handelsbetrekkinge tussen Suid-Afrika en die VSA.

Een daarvan is dat eiendom slegs teen markwaarde onteien kan word ná ‘n behoorlike regsproses.

Die VF Plus meen dit is realisties om ‘n vlaag van onteiening sonder vergoeding te verwag indien Ekurhuleni eindelik suksesvol sou wees in hierdie geval.

Dit sal terselfdertyd ‘n gevaarlike toetssaak vir die toekoms skep wat grondeienaars van enige toekomstige regsremedie sal ontneem.

Die situasie is ernstig en raak elke Suid-Afrikaner. In hierdie geval sal geskille vir eers opsygeskuif moet word en alle Suid-Afrikaners sal moet hande vat om eiendomsreg in die land te beskerm.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.