Die VF Plus het met ʼn mosie in die Nelson Mandelabaai-metroraad (NMBM) daarin geslaag om persone wat verantwoordelik is vir die beskadiging van verkeersligte, voortaan persoonlik aanspreeklik te hou vir die skade.
Dit is om die finansiële las vir die herstel en vervanging van verkeersligte van belastingbetalers te verskuif na die skuldiges en hul versekeringsmaatskappye.
Die NMBM ervaar ʼn groeiende probleem met verkeersligte wat beskadig word, dikwels weens motorongelukke waar bestuurders nalatig of onder die invloed van alkohol bestuur.
Die VF Plus se mosie bepaal dat die koste vir die herstel of vervanging van beskadigde verkeersinfrastruktuur verhaal moet word van die verantwoordelike bestuurders, naaste familielid of boedel, sowel as hul versekeringsmaatskappy waar toepaslik
Die waarnemende stadsbestuurder, mnr. Ted Pillay, het ook die aanbevelings van die mosie onderskryf.
In ’n skrywe is bevestig dat die huidige beheermaatreëls hersien gaan word en dat, waar nodig, bykomende stelsels ingestel gaan word om verkeersligte beter te beskerm.
Daarbenewens is ’n ondersoek aan die gang om te bepaal of die onlangse toename in beskadigde verkeersligte moontlik doelbewuste sabotasie is.
Die VF Plus beklemtoon dat hierdie stap ’n duidelike bewys is dat die administrasie die beginsels van verantwoordbaarheid en kosteverhaling ernstig wil opneem.
Dit is ’n belangrike oorwinning vir die inwoners van die NMBM en wys dat die VF Plus se prioriteit altyd is om belastingbetalers te beskerm teen onnodige uitgawes.
Die VF Plus sal aanhou toesig hou om seker te maak dat die maatreëls wat ingestel word, effektief in werking gestel word en dat die metro se infrastruktuur en openbare fondse beter beskerm word.


