Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Munisipaliteit moet optree oor gevaarlike gebou in Aberdeen

Die VF Plus en inwoners eis dringende optrede van die Dr. Beyers Naude-plaaslike munisipaliteit om ʼn oplossing te vind vir die verwaarloosde en gevaarlike toestand van ʼn afgebrande huis in Aberdeen.

Dié huis in Van Riebeeckstraat lê al vir jare in puin en is ʼn direkte bedreiging vir openbare veiligheid en die gesondheid van die gemeenskap.

Die struktuur is in ’n kritieke toestand van verval met onstabiele dakplate en gekraakte mure wat enige tyd kan ineenstort. Dit bedreig nie net die veiligheid van verbygangers en kinders wat in die omgewing speel nie, maar het ook ’n broeiplek geword vir misdaad, onwettige vullisstorting en ander onhigiëniese aktiwiteite.

Verskeie klagte is by die munisipaliteit ingedien, maar geen sigbare stappe is geneem nie, wat vrae laat ontstaan oor die munisipaliteit se verbintenis tot die veiligheid van Aberdeen se inwoners.

Die munisipaliteit moet onmiddellik optree om hierdie probleem op te los in ooreenstemming met die nodige wetgewing tot sy beskikking.

Die Wet op Nasionale Bouregulasies en Boustandaarde verplig die munisipaliteit om op te tree wanneer ʼn eiendom ʼn gevaar vir lewe of ander eiendom inhou.

Indien die eienaar van die eiendom onopspoorbaar is, soos in die geval met die eiendom in Aberdeen, moet die munisipaliteit sekere stappe volg soos uiteengesit in die Munisipale Stelselswet en munisipale verordeninge rakende probleemeiendomme.

Die VF Plus eis intussen dat die munisipaliteit die eiendom onmiddellik inspekteer en beveilig, die vullis opruim en die nodige wettige stappe neem om die eiendom te sloop.

Die inwoners van Aberdeen verdien ’n veilige en skoon omgewing om te leef en werk.

Die VF Plus sal hierdie saak noukeurig monitor en verdere stappe neem om te verseker dat die munisipaliteit sy wetlike verpligtinge nakom.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.