Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus wys ses kritieke tekortkominge in Tshwane-metro se GOP-proses

Daar is verskeie ernstige probleme in die Tshwane-metroraad se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) vir 2026/27 en die 2026/28 se mediumtermyn inkomste- en uitgaweraamwerk.

Die VF Plus het in die jongste vergadering van die raad ses van die probleme uitgewys wat die integriteit van die proses en die gehalte van dienslewering bedreig.

Die ses probleempunte is:

  1. Onveilige en ontoeganklike openbare deelnameplekke
    Vergaderings word op plekke gehou wat nie gerieflik of veilig is vir alle inwoners nie. In Bronkhorstspruit word die sportkompleks gebruik, terwyl gemeenskapsale nader aan woongebiede beskikbaar is. Inwoners van Eersterust moet na Mamelodi reis, dikwels in die aand – ’n onaanvaarbare en riskante reëling.
  2. Gebrek aan ondersteuning vir departemente
    Die prosesplan is omvangryk en vereis deeglike koördinering. Sonder voldoende ondersteuning sal departemente sukkel om hul mandaat uit te voer, wat dienslewering direk beïnvloed.
  3. Risiko van vertragings en swak gehalte
    Wysigings, terugvoer van belanghebbendes en wetlike vereistes kan die tydsberekening en gehalte van die finale GOP en begroting negatief beïnvloed.
  4. Geen konkrete finansiële besonderhede
    Die dokument verwys wel na finansiële implikasies, maar versuim om duidelike kostes of befondsingsplanne te verskaf. Hierdie gebrek aan deursigtigheid ondermyn die uitvoerbaarheid en aanspreeklikheid van die plan.
  5. Tegniese en ontoeganklike dokumentasie
    Die GOP is te kompleks vir gewone inwoners, wat sinvolle deelname beperk en die doel van ’n inklusiewe regering ondermyn.
  6. Generiese en inhoudlose departementele kommentaar
    Interne kommentaar is in baie gevalle oppervlakkig en dra nie by tot verbetering nie. Dit ontneem die proses van kritiese selfrefleksie en groei.

Die VF Plus ondersteun ontwikkeling in die Tshwane-metro, maar dring daarop aan dat hierdie ses kwessies dringend aangespreek word.

Openbare deelname moet werklik wees – nie ’n administratiewe formaliteit nie. Die party sal aanhou druk uitoefen vir ’n GOP-proses wat inklusief, deursigtig en uitvoerbaar is.

Tshwane se inwoners verdien ’n regering wat hulle raaksien, betrek en dien, nie een wat hulle uitsluit nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.