Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Nasionale Onderwys- en Opleidingsraad: VF Plus versigtig optimisties

Die minister van basiese onderwys, me. Siviwe Gwarube, se aankondiging van die lede van die nuwe Nasionale Onderwys- en Opleidingsraad is ‘n belangrike stap om vertroue in Suid-Afrikaanse onderwys te herstel. Dit is belangrik, nie net vir openbare skole nie, maar vir almal wat onderwys in Suid-Afrika bedryf. Ongeag die eksamenowerheid, ontvang alle Suid-Afrikaanse skoliere dieselfde Nasionale Senior Sertifikaat.

Sedert prof. Sibusiso Bengu kort na 1994 uitkomsgebaseerde onderrig oorhaastig geïmplementeer het, was onderwys in ‘n staat van krisisbestuur. Die pogings om gelyke onderwys aan almal te voorsien, het herhaaldelik tot grondliggende veranderings sonder behoorlike raadpleging gelei.

‘n Mate van stabiliteit het teruggekeer toe oudminister Angie Motshekga die Kurrikulum- en Assesseringsverklarings (algemeen bekend as CAPS) in 2012 geïmplementeer het. Dit het duideliker inhoudsriglyne bevat en onderwysers se onderrigtaak vergemaklik.

Van die belangrikste gebreke in die wyse waarop onderwys aangepak is, het egter hardnekkig vasgeklou. Dit is die oorlading van onderwysers met administratiewe take en die lae slaagsyfer. Dit laat gebreke wat met uitvoerende onvermoë te doen het, soos onvoldoende infrastruktuur en ‘n bouprogram wat nie met bevolkingsgroei en -verskuiwings tred hou nie, uit.

Ten spyte van die gebreke, is ‘n oorhaastige hervormingsprogram van ‘n minister wat graag soos ‘n nuwe besem skoon wil vee, die laaste ding wat onderwys nou nodig het. Dit is juis die soort benadering wat twee probleme skep vir elkeen wat opgelos word.

Die VF Plus is egter nie optimisties dat Suid-Afrikaanse onderwys van die huidige ideologiese grondslag ontslae sal raak nie. Dit is die sentralisering van onderwys soos in die Bela-wet vervat en die weergawe van “nasiebou” wat kulturele identiteit misken.

Die VF Plus is nogtans optimisties dat hierdie raad ‘n positiewe bydrae sal lewer.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.