Die VF Plus veroordeel die gewelddadige protesoptrede wat vanoggend gelei het tot die brand wat by die kantore van binnelandse sake in Germiston uitgebreek het, ten sterkste.
Die tweede verdieping van die gebou is totaal vernietig.
Inwoners van die Pharoe Park-woonstelblok, wat aan die Ekurhuleni-metro se behuisingsmaatskappy behoort, is vermoedelik verantwoordelik vir die protesoptrede en daaropvolgende brand.
Dié woonstelblok is naby binnelandse sake se kantore wat geleë is op die hoek van FH Odendaal- en Presidentstraat.
Die behuisingsmaatskappy het op 26 Junie ʼn uitsettingsbevel verkry om die inwoners van die Pharoe Park-woonstelblok te verwyder. Dié bevel is vanoggend uitgevoer.
Die inwoners skuld die metro reeds meer as R200 miljoen oor die afgelope 20 jaar aan agterstallige huurgeld. Meer as 400 gesinne woon in die woonstelblok.
Die VF Plus is deeglik bewus daarvan dat hierdie situasie ’n groot impak het op die gesinne wat hul huise moet verlaat. Nietemin kan wetteloosheid nie toegelaat word nie.
Die VF Plus veroordeel ten sterkste die gewelddadige optrede wat niks anders is nie as misdadig, vernietigend en onaanvaarbaar.
Die party sal nooit skade aan infrastruktuur, die verbreking van die wet of aanhitsing van geweld goedkeur nie.


