Minister Nomakhosazana Meth, minister van werkskepping en arbeid, se antwoord op ‘n vraag van die VF Plus dat alle kraamverlof-eise in Suid-Afrika volledig op datum is – buiten natuurlik die huidige jaar – kan nie ernstig opgeneem word nie.
Die VF Plus kry gereeld navrae van regoor die land van vroue wat in sommige gevalle reeds jare sukkel om hul kraamverlof-eise uitbetaal te kry en is bewus van eisers wat hulle gereeld na sosiale media wend om hieroor te kla.
Selfs in die personeelgeledere van die party is persone wat ‘n uitgereikte stryd voer oor agterstallige eise wat al langer as ‘n jaar sloer.
Vroue wat deur die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) kwalifiseer, kan vir ‘n tydperk van vier maande ‘n betaling eis indien hul salaris nie ten volle deur hul werkgewer betaal word nie.
Die minister se antwoord dat daar buiten die lopende boekjaar nie ‘n enkele eis uitstaande is nie, is bloot nie waar nie. Gegewe ook die ANC se rekord van dienslewering sou dit te veel verg om te glo dat een departement foutloos funksioneer.
Die VF Plus het aan die minister gevra hoeveel eise vir kraamvoordele by die WVF ingedien is sedert die 2023/24-finansiële jaar tot op hede, die totale aantal eise wat in elke jaar uitbetaal is en die aantal eise wat nog uitstaande is. Ook wat die redes vir die vertraging is.
Die antwoord was dat in die 2023/2024 finansiële jaar 99 945 eise ontvang is, 187 909 betalings gedoen is (altesame R1 715 691 370,41) met geen agterstallig nie. (Hou in gedagte dat daar soms meer as een betaling per eis is.)
In 2024/25 is 119 893 eise ontvang, 220 810 uitbetaling is gedoen (R1 766 658 896,37) met geen agterstallige.
In die lopende finansiële jaar is 30 708 eise reeds ontvang, 62 218 betalings is gedoen ten bedrae van R5050 183 833,83 terwyl 2 626 nog nie gefinaliseer is nie.
Luidens die minister se antwoord is die huidige agterstand hoofsaaklik te wyte aan die indiening van onvolledige aansoeke, veral wat die UI19-vorm (verklaring) aanbetref.
‘n Herhalende probleem is ook dat werkgewers die betrokke werknemers as “aktief” verklaar selfs nadat hulle met kraamverlof gaan, eerder as om ‘n ontslagrede en datum op die UI19 vorm aan te dui.
Gevolglik weerspieël die werknemer se status voortgesette indiensneming, wat lei tot teenstrydighede tydens eisbeoordeling wat die verwerking daarvan vertraag.
Daarbenewens dien eisers aansoeke in wat onvolledig is of nie die vereiste ondersteunende dokumente het nie. Dit kompliseer die beoordelingsproses verder en dra “aansienlik by” tot die ophoping van onverwerkte/agterstallige eise.
Volgens die minister word hierdie probleme aangespreek deur sulke gevalle aan werkgewerdienste te rapporteer om dit op te volg met werkgewers en eisers te kontak om uitstaande ondersteunende dokumente te verskaf.
Die VF Plus stem saam dat eisers moet seker maak hulle voldoen aan hierdie voorwaardes, maar die realiteit skets ook ‘n ander prentjie oor die situasie.
Dit is een waar eisers geen terugvoer ontvang nadat eise ingedien is nie, waar hulle sukkel om amptenare op te spoor en hulle verder teen ‘n muur van onbevoegdheid en rompslomp vasloop.
Ingediende dokumente raak verlore, word nie verwerk nie en moet herhaaldelik weer ingedien word. Dit is die realiteit waarvan die VF Plus bewus is.
Daar is ongelukkig geen rekord oor die omvang van die probleem nie. Die departement probeer voorgee sy werk is op datum, maar die VF Plus het rede om te glo die agterstande is omvangryk.
Persone wat probleme ervaar, kan in verbinding tree met Misha-Lamé Gericke by e-pos: mgericke@vfplus.org.za


