Die voortdurende wanfunksionering en wanbestuur van die Lekwa-plaaslike munisipaliteit (Standerton, Morgenzon) se rekeningstelsel, veral met betrekking tot water- en elektrisiteitsverbruik, is kommerwekkend.
Ten spyte van herhaalde klagtes van inwoners en halfhartige pogings van die munisipale bestuur om dit te reg te stel, maak die stelsel steeds staat op beraamde verbruiksyfers eerder as werklike meterlesings.
Terwyl die munisipaliteit inwoners aangemoedig het om hul eie meterlesings in 2024 in te dien, het die VF Plus verskeie klagtes ontvang vanaf inwoners dat hierdie lesings óf geïgnoreer óf verkeerd aangeteken word.
Gevolglik staar inwoners onregverdige hoë heffings in die gesig wanneer regstellings gemaak word, dikwels teen hoë tariewe.
Sommige inwoners ontvang steeds finale kennisgewings en dreigemente van diens-ontkoppeling vir uitstaande rekeninge wat steeds die koste van vorige eiendomseienaars weerspieël. Dit skep nie net onnodige kommer nie, maar dra ook by tot ‘n onrealistiese projeksie van munisipale inkomste, terwyl dit ‘n buitensporige finansiële las op eerlike, betalende inwoners plaas.
Die VF Plus versoek daarom ‘n onmiddellike en deeglike oudit van die hele munisipale rekeningstelsel. ’n Voorstel vir so ’n oudit is reeds deur die party ter tafel gelê en goedgekeur. Die munisipaliteit moet nou die beslissende stappe hieroor neem.
Inwoners verdien ‘n deursigtige, betroubare en regverdige faktureringstelsel – een wat hul vertroue handhaaf en hul finansiële bydraes respekteer. Die VF Plus sal voortgaan om druk toe te pas totdat die munisipaliteit sy plig nakom om akkurate en regverdige munisipale rekeninge te lewer.


