Miljoene rand se ongebruikte voorraad lê en stof opgaar by die Ekurhuleni-metro se energiedepartement terwyl basiese items soos gloeilampe nie beskikbaar is nie.
Luidens ʼn verslag van die energiedepartement is daar tans R512 miljoen se voorraad in die Boksburg-pakhuis.
Daar is ʼn verdere R14 miljoen se voorraad wat in 2022 laas gebruik is.
Verskeie items vir instandhouding en noodherstelwerk is uit voorraad wat dienslewering en openbare veiligheid negatief raak.
Van die voorraad wat tans ongebruik in die store is, sluit die volgende in:
• Voorafbetaalde enkelfase-meters ter waarde van R25 miljoen;
• Diesel ter waarde van R15 miljoen;
• Groen vullissakke ter waarde van R13 miljoen;
• Netwerkroteerders van R13,6 miljoen. Dit is ʼn kommunikasietoestel wat data van verskeie toestelle soos voorafbetaalde meters insamel en aan ‘n sentrale beheerstelsel stuur.
Dié items word wel gebruik, maar nie tot dieselfde mate as noodsaaklike herstelmateriaal nie.
Voorraad wat sedert 2022 en 2023 in die pakhuise staan, is die volgende:
• 6 917 enkelfase meters ter waarde van R4,65 miljoen;
• 3 400 voorafbetaalde slimmeters ter waarde van R3,8 miljoen;
• 5 mini substasies ter waarde van R3,52 miljoen.
Die VF Plus is van mening dat die bestelpatrone van items nie ooreenstem met die werklike behoeftes nie.
Deursigtigheid met die verkryging van voorraad word ook bevraagteken synde die metro in baie gevalle van net ʼn klein groepie voorkeurverskaffers gebruik maak.
Die VF Plus het die burgemeesterskomiteelid van energie, Mzayifani Ngwenya, gevra om die aanskaf van nie-noodsaaklike voorraad ten koste van noodsaaklike voorraad te verduidelik. Daar moet ook ʼn ondersoek gedoen word of daar enige onreëlmatighede met verkrygingsprosedures is en of daar amptenare is wat finansieel voordeel trek deur die aanskaffing van onnodige voorraad van verskaffers.
Dit is onaanvaarbaar dat miljoene rand se voorraad stof opgaar terwyl dienslewering in duie stort.


