Amerika het nou duidelik uitgespel wat die “probleme” is wat hy met Suid-Afrika het en dat die Amerikaanse regering deur “diplomasie” daarna mik om “beleidsveranderinge” in Suid-Afrika teweeg te bring.
Onteiening sonder vergoeding en Suid-Afrika se “vyandige houding” teenoor Amerika en sy bondgenote is hoog op dié lys.
Me. Tammy Bruce, ‘n woordvoerder van Amerika se minister van buitelandse sake, Marco Rubio, het gister aan die media gesê pres. Donald Trump en Rubio het dit “duidelik gemaak” wat die aangeleenthede is waarmee hulle ‘n “probleem” het aangaande Suid-Afrika. (https://www.youtube.com/watch?v=JiSkVDzPwL8)
Die kwessie van onteiening sonder vergoeding is een daarvan. Daarmee saam Suid-Afrika se “groeiende verhouding” met lande wat Amerika vyandiggesind is, soos Iran en Rusland.
Volgens haar neem Suid-Afrika ook toenemend ‘n “aggressiewe” houding in teenoor Amerika en sy bondgenote soos Israel wat hy van volksmoord by die Internasionale Strafhof verkla, maar nie Hamas nie.
Suid-Afrika het hom ook “geposisioneer om kommersiële, militêre en kernverhoudinge met Iran te ontwikkel”. Volgens Bruce is dit “duidelik” dat Amerika se optrede teenoor Suid-Afrika oor veel meer as ‘n enkele voorval gaan.
Sy sê dit gaan oor ‘n land wat daadwerklike stappe neem wat nie in die beste belang van ‘n “veilige en onbedreigde” Amerika is nie.
“Dinge soos hierdie het daartoe gelei tot Amerika sy beleid teenoor Suid-Afrika hersien.
“Dit is vir Amerika belangrik om deur diplomasie ‘n beleids- en gesindheidsverandering in Suid-Afrika teweeg te bring. Veranderinge moet aangemoedig word.
“Amerika wil lande nie straf nie, maar wil opreg omstandighede beter maak vir hul inwoners. Dit gaan daaroor dat beleid moet verander om ‘n beter omgewing vir die lande se inwoners te skep.”
Sy sê ook Suid-Afrika is oneerlik deur voor te gee hy is nie vooraf ingelig oor Amerika se optrede teen voormalige ambassadeur Ebrahim Rasool nie en dat hy op die platform X daaroor ingelig is.
Volgens Bruce het senior Amerikaanse diplomatieke personeel Suid-Afrika se ambassadepersoneel na hul kantoor ontbied en hulle persoonlik ingelig oor die besluit oor Rasool.
Sy sê Rasool se opmerkings het die “grense van billike kritiek” oorskry deur pres. Donald Trump as ‘n wit heerssugtige te bestempel en Amerika en al sy inwoners is sodoende beledig.
“Dit is die standaard van ‘n persoon wat in die land is en veronderstel is om ‘n diplomaat te wees. Sy uitlatings was onaanvaarbaar en grens aan die obsene. ‘n Diplomaat moet bande tussen lande versterk en ‘n mens verwag ten minste ‘n mate van respek”.
Hierdie uitlatings maak dit baie duidelik dat Amerika veel meer as ‘n vriendelik gebaar van Suid-Afrika se kant verwag wat toekomstige verhoudinge aanbetref.
Vir Suid-Afrika is dit nou die kans om as ‘n werklike regering van nasionale eenheid (RNE) die land op ‘n nuwe pad te plaas wat ons internasionale verhoudinge aanbetref. Niemand sal Suid-Afrika of die RNE verkwalik indien ons hiermee kies vir Suid-Afrika en sy mense eerste nie.


