Die VF Plus is dankbaar dat redelikheid en goeie oordeel geseëvier het in Media24 se besluit dat geen koerantjoernalis as deel van die groep se beoogde herstrukturering, afgelê gaan word nie.
Sonder gesoute en deurwinterde joernaliste kwyn die soeke na waarheid en die openbaarmaking van ongerymdhede.
Geen prys is te hoog vir akkurate en geloofwaardige inligting in ʼn tyd waar snelgroeiende inligtingstegnologie die wêreld oorspoel en daar ʼn groeiende gaping ontstaan tussen waarheid en fiksie nie.
In hierdie snel groeiende inligtingswarboel waar mense soms meer waarde heg aan plasings op sosiale media-platvorms soos Facebook en X, het die behoud en beskerming van professionele persone wat die waarheid najaag, van kritieke belang geraak.
So ook die behoud van formele maatskappye wat hierdie kwynende kundigheid koester en beskerm.
Die toekoms van inligting lê voor, maar die wêreld het reeds ʼn idee daarvan.
Daarom moet almal wat soggens sy of haar nuus op een of ander wyse lees of hoor, ʼn groot mate van geloofwaardigheid daaraan kan heg. Daarsonder is almal in die duister en sal sosiale media toenemend die geloofwaardige inligtingsbron raak. Dit mag nie gebeur nie.
Die besluit van Media24 om die joernaliste te behou, al is dit ten koste van die sluiting van gedrukte koerante soos Rapport, City Press en Daily Sun, was die regte besluit. Al het dit groot openbare druk geverg om dié besluit te neem.


