Werkloosheid stroop ʼn mens van menswaardigheid en laat jou weerloos en sonder toekomssekerheid. Daarom is die mandaat van die departement van indiensneming en arbeid een van die belangrikstes in Suid-Afrika.
In die veranderende politieke omgewing waarin Suid-Afrika hom bevind, moet daar ʼn gefokusde poging met die nodige politieke wil wees om noodsaaklike veranderinge te bewerkstellig om miljoene werkloses hoop te gee.
Regrukpogings in die departement soos ministeriële oorsig oor die Vergoedingsfonds en die Werkloosheidsversekeringsfonds is welkom. Indien daar egter nie ʼn daadwerklike skoonmaak- en omkeerproses binne hierdie entiteite plaasvind om onder meer administrasie en diens te verbeter nie, sal daar geen werklike verbetering wees nie.
Dit is kommerwekkend dat die reeds kontantbeperkte Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) se begroting verder ingekort word.
Hierdie is bykans die enigste entiteit van die departement wat bevredigend funksioneer, ten spyte van beperkte finansiële en ander hulpbronne.
Die KVBA se rol ten opsigte van billike arbeidspraktyke, gesonde arbeidsverhoudinge en die algemene billike behandeling van werkers, moet in stand gehou word.
Daarteenoor kan die rol en begroting van witolifant-entiteite, soos Produktiwiteit Suid-Afrika wat geen wesenlike doel dien nie, herbesoek word om onder meer die KVBA te versterk.
Die tyd het ook aangebreek om werklik iets te doen om die lot van mense met gestremdhede te verbeter en nie net beloftes te maak nie.
Die funksionering en koste van die staat se inligtingstegnologie-agentskap (Sita) moet dringend aandag kry. In hierdie stadium belemmer Sita se onbeholpenheid die regering se funksionering by talle departemente meer as wat dit help.
Wat die Wysigingswet op Diensbillikheid aanbetref, moet die implikasie daarvan nog in die praktyk gesien word.
Alhoewel dit een van die departement se beleidsmandate is om diskriminasie in die werkplek uit te skakel, kan dit nie uitgeskakel word deur teen mense te diskrimineer soos hierdie wet doen nie.
Die tyd het aangebreek om diskriminering onder die vaandel van regstelling, te beëindig. Dit is tyd vir ware verandering wat die mense van die land weer hoop kan gee.


