(Debat in parlement oor president se 2024-Staatsrede)
Die nalatenskap van president Cyril Ramaphosa se ses jaar van presidentskap tot nou toe, skets ‘n somber prentjie van totale verval.
Op haas elke gebied het die land ingrypend agteruitgegaan. Elke persoon se lewenskwaliteit het ingrypend versleg en midde in hierdie verval wat almal daagliks sien en ervaar, loop die duidelike spoor van die ANC.
Dit kan nie ontken word nie. Dinge soos onafhanklike ekonomiese aanwysers en die staat se eie misdaadsyfers lewer die harde bewyse van die land se agteruitgang onder Ramaphosa.
Toe hy in 2018 president geword het, was die ekonomiese groeikoers 1,3%. Verlede jaar was dit 0,9%. Dit is agteruitgang met slegte gevolge vir die land en sy mense.
In gesprekke met die president oor die land se kragprobleme, het hy self erken dat Eskom twintig jaar gelede een van die beste kragverskaffers ter wêreld was. Die ANC alleen het Eskom vernietig.
As adjunkpresident is pres. Ramaphosa boonop aangestel as hoof van die regering se sogenaamde “oorlogskamer” om aandag aan die kragprobleem te gee. Hy het totaal misluk.
In 2018 was die rand se wisselkoers teenoor die Amerikaanse dollar R11,55. Gister het dit op R18,92 gestaan.
Die krimpende Johannesburgse effektebeurs (JSE) het oor ses jaar ‘n verlies van 22% aan die Amerikaanse dollar getoon. Hierteenoor het die New Yorkse Nasdaq 100 met 147% gegroei en die S&P 500 met 75%.
Werkloosheid was ses jaar gelede 24%. Dit is nou 32%. Jeugwerkloosheid het toegeneem met 20% en staan tans op 64%.
Die president het ruiterlik erken dat die ANC die grootste skuldige is wat korrupsie aanbetref. Dit maak hom die nommer een van beskuldigde nommer een. Nou word ANC- nommer twee, Paul Mashatile, ook van korrupsie beskuldig. Maar niks gebeur nie.
Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het onlangs ruiterlik erken hoe die ANC korrupsie op hoogste vlak toegesmeer het deur onder meer te jok oor die Nkandla-“brandpoel”. Daar was geen sprake van parlementêre oorsig of verantwoordbaarheid nie.
Net soos met Nkandla, het die huidige parlement en sy ANC-meerderheid president Ramaphosa beskerm oor die Phala Phala-aangeleentheid. Tog wil die president nie opstaan en verantwoordbaar staan teenoor die mense van Suid-Afrika nie.
Volgens die Global Organized Crime Index, is Suid-Afrika tans sewende op hierdie lys en derde in Afrika. Die grootste misdaadsindikaat in die land is waarskynlik die ANC.
Ses jaar gelede was die moordsyfer in Suid-Afrika 35 per 100 000 van die bevolking. Dit is tans 45. President Ramaphosa het die verskynsel van plaasmoorde voor die wêreld ontken en was eers bereid om dit te erken nadat die VF Plus hom in parlementêre debatte daaroor gekonfronteer het.
Suid-Afrika is ‘n regstaat en elke landsburger moet gelyk voor die reg staan. Maar met die hofsaak in Groblersdal waar twee persone aangekla word van aanranding, gaan woon die ministers van polisie, Bheki Cele, en justisie, Ronald Lamola, self die borgtogaansoek van die beskuldigdes by.
Dit is uit en uit met ‘n politieke motief gedoen om subtiele druk op die voorsittende beampte te plaas en hom te intimideer. Hulle is borgtog geweier.
Daarteenoor het ek persoonlik twee keer klagtes teen die EFF-leier, Julius Malema ingedien oor sy direkte aanhitsing om wittes te vermoor. Waarom word hy nie ook in hegtenis geneem nie? Ongelykheid voor die reg word sodoende geskep.
Sowat 10 000 kinders sterf jaarliks van honger in Suid-Afrika terwyl die president en sy gevolg maaltye van R24 000 per persoon op die Inkwazi geniet. Dit is totale minagting vir die mense van Suid-Afrika wat honger ly.
Die ANC se vuil voetspore met dié van president Cyril Ramaphosa vooraan, sal lank ná die ANC nog op die Suid-Afrikaanse landskap te sien wees. Dit is tyd vir president Ramaphosa en die ANC om te gaan.


