Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Soldate van vorige bedeling, insluitend Kaapse Kleurlingkorps moet ook voordele van militêre veterane kry

(Begrotingsdebat in parlement: Verdediging en militêre veterane)

Die Wet op Militêre Veterane van 2011 maak dit duidelik dat alle lede van die land se nasionale weermag, ook dié wat voor 1994 gedien het, kwalifiseer as militêre veterane.

Die wet bepaal dat ’n militêre veteraan (a); enige Suid-Afrikaanse burger is wat militêre diens verrig het vir enige van die militêre organisasies, statuurregtelik of andersins, wat aan alle kante van die Suid-Afrikaanse bevrydingsoorlog vanaf 1960 tot 1994 betrokke was.

Dit is (b); ook iemand wat voor 1961 ’n lid van die Uniemag was of (c); iemand wat ’n lid geword het van die nuwe Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag ná 1994 wat opleiding voltooi het, nie meer diens verrig nie en nie oneervol ontslaan is nie.

Dit sluit ook diegene in wat nie hul diensplig kon voltooi nie weens ’n besering of siekte wat opgedoen is ten tyde van sy of haar militêre opleiding.

In hierdie stadium is daar klaarblyklik ’n opvatting dat lede wat voor 1994 gedien het, nie kwalifiseer as militêre veterane nie. Dit is onwaar.

Ek wil hier in besonder verwys na lede van die Kaapse Korps (SAKK) vir bruin lede wat voor 1994 gedien het. Ek word oorval met navrae van hierdie lede wat ingevolge die definisie van die wet kwalifiseer as veterane, maar nie die voordele kry nie.

Daar is natuurlik sekere voorwaardes en die wet bepaal onder meer dat ‘n middele-toets soos inkomste gebruik sal word om te bepaal of iemand kwalifiseer vir voordele.

Daar is ook ander tegniese vereistes waaraan voldoen moet word voordat geëis kan word, soos dat ‘n eiser as ‘n militêre veteraan geregistreer moet wees by die betrokke departement.

Die VF Plus is bewus van lede wat aan al die voorskrifte voldoen om voordele te ontvang, maar hulle word daarvan weerhou deur burokratiese struikelblokke.

Die party doen daarom ’n beroep op die minister, Thandi Modise, om aandag te skenk aan die saak sodat soldate wat hul land gedien het, die voordele ontvang waarop hulle geregtig is. Ongeag aan watter kant van die stryd hulle was.

Nog ’n saak waaraan die minister aandag moet skenk, is die opgeblase topstruktuur van die SANW. Daar is tans meer as 400 generaals waarvan slegs 97 in strategiese poste is.

Meer as 300 verrig bloot administratiewe take. Daar mag nie toegelaat word dat lede, en veral oud-Umkhonto we Sizwe-lede, hoë poste kry net om gemaklik af te tree nie.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.