(Begrotingsdebat in parlement: Staatsveiligheid)
Indien die omstredenheid waarin die staatsveiligheidsagentskap (SVA) gehul is nie vinnig opgelos word nie, sal die publiek toenemend sy vertroue in die agentskap verloor.
Een van die kwelvrae rakende die SVA is die posisie van die adjunkminister van staatsveiligheid, Zizi Kodwa, en die sekuriteitsrisiko wat hy vir die SVA en die land inhou.
Dit het voor die Zondo-kommissie na staatskaping aan die lig gekom dat adj.min. Kodwa ’n sekere persoon R1,7 miljoen skuld. Hy het self beken dat hy die skuld nie in die afsienbare toekoms kan vereffen nie.
Alle lede van die gesamentlike staande komitee oor intelligensie moet ’n klaringsertifikaat kry om op dié komitee te dien. Hulle ontvang dan ’n ‘geheime klassifikasie’ weens die aard van die SVA se werk.
Dit is onverstaanbaar hoe adj.min. Kodwa ’n veiligheidsklaring kon kry aangesien hy met dié onbetaalde skuld duidelik gekompromitteer is.
Ek doen ’n beroep op pres. Cyril Ramaphosa om die adjunkminister summier uit sy pos te verwyder. Hy is ’n risiko vir die veiligheid van Suid-Afrika.
Die SVA was in verlede herhaaldelik in omstredenheid gehul, en steeds word toegelaat dat omstandighede ontwikkel wat geen vertroue by die publiek inboesem nie.
Die hoëvlak-hersieningspaneel wat in die SVA se omstredenheid moes delf, het onder meer bevind daar is onnodig uitermatige geheimhouding vanaf die kant van die SVA wat die parlement se staande komitee oor intelligensie se werk ondermyn.
Nog ’n bevinding was dat die SVA gebruik is in faksiegevegte binne die ANC en dat die agentskap se fondse hiervoor misbruik is.
Toe die agentskap onlangs na die presidensie oorgeskuif is, is gehoop dat die probleme sal verbeter.
Gegewe die feit dat die situasie met die adjunkminister en dieselfde mate van geheimhouding teenoor die parlement voortduur, wil dit nie voorkom of enigiets ten goede verander het nie.
Daar moet dus gevra word of die SVA nie net oorgeneem is deur ’n ander faksie in die ANC nie.
Indien president Ramaphosa vertroue in die SVA wil herstel as ’n objektiewe en neutrale entiteit in diens van die staat en die land, moet hy vinnig optree.
Doen hy dit nie, sal daar noodgedwonge gevra word of die agentskap nou weer in die uitsluitlike belang van die president optree.