(Begrotingsdebat in parlement: Polisie)
Die Grondwet bepaal dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) die inwoners van die land en hul eiendom moet beskerm.
Tog is geweldsmisdaad in die land buite verhouding hoog teenoor die res van die wêreld met ’n moordsyfer van 36 uit 100 000 van die bevolking teenoor ’n wêreldgemiddelde van 7 uit 100 000.
Die minister van polisie (Bheki Cele), is vinnig om die skuld vir die hoë voorkoms van geweldsmisdaad op die publiek en op wettige vuurwapen-eienaars te pak.
Die realiteit skets egter ’n ander prentjie. Die polisie is die enkele staatsentiteit met die meeste vuurwapens in die land, selfs meer as die weermag.
Oor die vyf jaar-periode vanaf 2016/17 tot 2020/21, het 3 405 vuurwapens verlore geraak of is gesteel van die polisie. Hiervan is slegs 1 674 teruggevind.
Dit beteken dat 1 731 van hierdie vuurwapens tans in die hande van misdadigers is.
Almal is bewus van die situasie rondom die Norwood-polisiekantoor en die 175 vuurwapens wat daar vermis geraak het.
Benewens die vuurwapens, het byna R80 000 in kontant ook van die polisiekantoor se bergingstoor verdwyn.
Hierdie geld en vuurwapens was belangrike bewysstukke in 53 sake. Wat hier gebeur het, was ’n regstreeks ondermyning van die strafregstelsel.
Die betrokke stasiebevelvoerder het in Januarie vanjaar bedank sonder enige optrede teen hom.
Gebeure soos hierdie ondermyn grootliks die vertroue wat die publiek in die polisie het. Navorsing toon aan dat die publiek se vertroue afgeneem het van 47% in 1999 (die hoogste) tot slegs 27% vandag.
Daar is wel baie goeie en hardwerkende lede in die polisiediens wat hul bes probeer, maar hulle is duidelik in die minderheid.
Die VF Plus wil daarom ’n beroep doen op minister Cele en die nuwe nasionale polisiekommissaris, genl. Fannie Masemola, om drasties op te tree om dissipline op te knap en korrupsie uit te roei.
Waar die polisie die totale strafregstelsel moet bevorder, gebeur die teenoorgestelde tans en ondermyn eerder ten koste van die inwoners van Suid-Afrika.
Die rooi ligte oor hierdie stand van sake is reeds aan. Dit kan nie so voortduur nie.