Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Regering se gebrekkige ondersteuning aan melkboere lei tot krisis

Die regering behoort dringend kennis te neem van die krisis onder Suid-Afrikaanse melkboere. Die afname slegs in die Vrystaat vanaf 929 melkboere in 2009 tot 186 in 2018 behoort gevaarligte vir die nasionale departement van landbou te laat flikker.

Die krisis onder plaaslike melkprodusente spruit hoofsaaklik uit die feit dat hulle nie ondersteuning van die regering ontvang nie. Droogtehulp vir boere in droogtegeteisterde gebiede van die land is ontoereikend indien dit enigsins by die boere uitkom. Voorts ontvang plaaslike produsente, anders as hul Amerikaanse en Europese eweknieë, geen produksie-ondersteuning in die vorm van subsidies, bemagtiging en ander hulpbronne nie.

Die invoer van melk en melkverwante produkte dra by tot die reuse druk op die plaaslike mark. Plaaslike melkprodusente ontvang onder markwaarde vir hulle melk, omdat die invoer van melkverwante produkte vir onder andere die latere rekonstruksie van suiwelprodukte soos botter, jogurt, ens. baie goedkoper is.

Hierdie produkte word deur die kleinhandelsektor soos supermarkte verkies, omdat dit goedkoper is maar beskik nie oor dieselfde kwaliteit as plaaslik geproduseerde suiwelprodukte nie.

Die regering bied nie die nodige beskerming aan plaaslike melkprodusente deur middel van invoertariewe op verskeie suiwelprodukte nie. Daar is byvoorbeeld geen invoertariewe op langlewemelk nie en ten spyte van die feit dat daar ‘n matige ooraanbod van melk in die land was is daar steeds nagenoeg 431 miljoen liter melk in die pas afgelope jaar ingevoer.

Die regering behoort die binnelandse produksie van melk te stimuleer en ondersteun. Die landboubedryf is verantwoordelik vir die skep van duisende werksgeleenthede per jaar. Melkboerdery is minder gemeganiseerd as graanboerdery en is in wese arbeidsintensief. Duisende werksgeleenthede gaan jaarliks verlore namate melkerye toemaak weens reuse eksterne druk.

Die nasionale departement van landbou behoort invoertariewe op suiwelprodukte te prioritiseer en die kleinhandelsektor te dwing om ‘n vasgestelde kwota plaaslike suiwelprodukte aan te koop, alvorens invoerprodukte aangekoop mag word.

Die suiwelbedryf in Suid-Afrika lewer ‘n reuse bydra ten opsigte van binnelandse produksie en werkskepping. Dit moet beskerm en gestimuleer word.

 

Kontaknommer: 081 346 3328

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.