Die Gautengse regering moet verduidelik waarom die Gautengse departement van behuising ‘n stuk grond in Mogale City (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift) aangekoop het vir ‘n bedrag van R63 miljoen terwyl Mogale City se waardasierol aandui dat die grond slegs R2,9 miljoen werd is.
Hierdie stuk grond, wat bekend staan as Brickvale, Plaas 161 IQ, is deur die departement van behuising aangekoop om hoëdigtheid-behuising te ontwikkel ten spyte van omgewingsimpakstudies wat toon dat die grond gevaarlik is en deurspek is met dolomiet.
Ondanks besware van die VF Plus dat die grond ‘n gevaar is, daar nie ‘n openbare deelname-proses rondom die ontwikkeling plaasgevind het nie en die ontwikkeling nie by die Mogale City se geïntegreerde ontwikkelingsplan ingesluit is nie, gaan die departement voort met die ontwikkeling.
Die VF Plus het in Junie 2018 in die samewerkende regering en tradisionele sake-komitee (CoGTA-komitee) van die Gautengse wetgewer die probleme uitgewys. Dringende skrywes is deur die VF Plus en die komiteevoorsitter gerig aan die LUR vir behuising, mnr. Uhuru Moiloa, met die versoek om die ontwikkeling onmiddellik te staak.
Tydens ‘n vergadering tussen die LUR en die VF Plus in April 2018 het die LUR die VF Plus verseker dat hy niks geweet het van hierdie ontwikkeling nie en beloof om ‘n dringende ondersoek daarna te loods.
Tydens 'n episode van die televisieprogram, Fokus (22 Julie 2018, SABC 2) het die betrokke LUR egter gesê dat die Gauteng se departement van behuising wel voldoen aan die wetlike voorskrifte vir die ontwikkeling.
Nie Gauteng-provinsie of Mogale City-plaaslike munisipaliteit kan enige geotegniese verslae wat volgens wet gedoen moes word alvorens die projek geloods is, verskaf nie.
Karp Consulting wat die toetse en verslae namens die vorige eienaar gedoen het, kan nie opgespoor word vir kommentaar nie.
Die VF Plus se raadslid in Mogale City, Amanda de Lange, het bevestig dat sy deel was van die oorspronklike komitee in die Mogale City-raad wat Karp Consulting betrek het. Volgens haar het die komitee na bestudering van die verslag, ernstige bedenkinge oor die gevaar van die dolomiet-grond gehad.
Daar bestaan geen twyfel dat Mogale City en Gauteng-provinsie besig is om noodsaaklike inligting oor die veiligheidsaspekte van die grond te weerhou nie.
Die VF Plus vind dit kommerwekkend dat die LUR nie bereid is om op te tree en hierdie gevaarlike ontwikkeling te staak nie. Die LUR moet woord by die daad voeg en ‘n volskaalse ondersoek loods oor die buitensporige bedrag wat vir die grond betaal is. Die projek kan nie voortgaan voor so ‘n ondersoek nie afgehandel is en die nodige prosesse in plek is nie.
Die VF Plus is van mening dat indien hierdie ontwikkeling, ondanks waarskuwings voortgaan, menselewens bedreig gaan word en die LUR verantwoordelikheid sal moet aanvaar indien daar enige lewensverlies is weens die insinking van huise.
Die LUR se aannames in gisteraand se program dat die beswaar teen die ontwikkeling rassisties van aard is, is van alle waarheid ontbloot. Die VF Plus is bekommerd oor die wetlike prosesse wat nie gevolg is nie en menselewens wat in gevaar gestel gaan word deur die ontwikkeling.
Skakel na die Fokus program: https://youtu.be/FTcLWyPO1IE
Kontakbesonderhede:
Philip van Staden: 060 556 4347
Amanda de Lange: 071 6049 498