Die VF Plus het vandag nog ‘n klag van haatspraak by die Menseregtekommissie (MRK) teen pres. Jacob Zuma ingedien na sy aanval op wittes die naweek en sal voortgaan om klagtes in te dien tot die MRK optree, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor kommunikasie.
Luidens ‘n berig van Netwerk24 het pres. Zuma by ‘n verkiesingsaamtrek in Tembisa aan die Oos-Rand onder meer gesê wittes is onderdrukkers en verantwoordelik vir swart mense se armoede.
Hy het luidens die berig die aanval voor ‘n skare in Nelson Mandelabaai voortgesit en gesê swartes kan nie deur die ‘nasate van apartheid’ regeer word nie. Hy het ook daarop gesinspeel dat wittes soos ‘n ‘giftige slang is wat geboorte aan nog ‘n slang gee’.
Adv. Alberts sê sulke uitlatings is skokkend, veral komende van ‘n staatspresident wat oor almal in die land regeer, wit en swart.
“Die MRK het nou reeds genoeg tyd gehad om pres. Zuma se mond te snoer rakende sy duidelik verdelende en rassistiese uitsprake. Die VF Plus het begin verlede jaar al soortgelyke klagte ingedien wat nou nog nie afgehandel is nie.
“Die tyd het aangebreek dat die MRK die publiek van Suid-Afrika sonder vrees of vooroordeel dien, en om in hierdie opsig ‘n blaadjie te neem uit die boek van die Openbare Beskermer wat nie geskroom het om die staatspresident tot verantwoording te roep nie.
“Die VF Plus moes groot druk op die MRK plaas ingevolge die Paia-Wet voordat die klagte teen die president weer aandag begin kry het. Hy moet nou teen die einde van hierdie maand antwoord op sy Van Riebeeck-uitlatings van Januarie verlede jaar.
“Ons sal dieselfde met hierdie klag doen totdat hy skuldig bevind word aangesien daar geen twyfel is dat dit op haatspraak neerkom nie. Ons geduld is op met die MRK se eensydige ondersoeke en Zuma as president. Hierdie is deel van die VF Plus se poging om uiteindelik van pres. Zuma ontslae te raak.
“Die VF Plus is van mening dat die toenemende rasse-retoriek van pres. Zuma ‘n simptoom is van die kreeftegang van die ANC.
“Die spreekwoord lui ‘n benoude kat maak benoude spronge, maar die tragedie van hierdie benoude spronge is dat dit onnodige en verdelende rassewrywing in die land veroorsaak,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403


