Die VF Plus het vandag in die debat oor die wysigingswetsontwerp oor wetenskap en tegnologie opnuut sterk standpunt ingeneem teen transformasie en Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) en daarop aangedring om dit uit bestaande wetgewing te verwyder.
Die party het dit beklemtoon dat dié standpunt nie spreek van wantroue in die vermoë van swart mense nie, maar dat dit gaan oor die skaarsheid van vaardighede in Suid-Afrika. Terwyl wetenskap, tegnologie en innovasie 'n dryfkrag agter ekonomiese groei kan wees, is dit nie in Suid-Afrika die geval nie, deels as gevolg van dié skaarste.
Iemand wat in 'n posisie geplaas word, nie vanweë vermoë nie, maar weens ‘n demografiese profiel, kan moeilik weens wanprestasie verwyder word. Daar is immers demografiese teikens wat gehaal moet word.
Geen mens presteer optimaal wanneer ‘n demografiese profiel, ongeag prestasie, loopbaansukses bepaal nie.
Swart wetenskaplikes is, as gevolg van transformasieteikens, uiters gesogte werknemers. Só gesog, dat hulle dikwels nie kans kry om hulle in 'n posisie in te grawe, voordat hulle 'n beter aanbod kry nie. Dit dra by tot 'n ongeregverdigde negatiewe opvatting oor swart wetenskaplikes se prestasie.
In die belang van swart en wit wetenskaplikes, sowel as in die belang van die Suid-Afrikaanse ekonomie, sou die VF Plus verkies dat hierdie wetsontwerp selfs verder gaan om transformasie in dié departement te beëindig.
Kontaknommer: 074 166 5540


