Die VF Plus in Gauteng het reeds in 2016 gewaarsku dat leerlinge in die provinsie se skole handuit sal ruk en ‘n situasie sal skep waar jeugdiges volwassenes gaan hiet en gebied indien gedragskodes in skole in die slag sou bly.
In daardie stadium was die LUR van onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, besig om gedragskodes by alle skole op te skort. (Sien VF Plus-verklaring: Gauteng skole: Gedragskode moet bly 31 Augustus 2016).
Skaars twintig maande later en ‘n verslag verskyn vandag in die media wat aandui hoe erg leerlinge in skole handuit ruk. Die VF Plus is bekommerd dat te veel leerlinge reeds in ‘n staat van misdaad verval het en dat Suid-Afrika oor ‘n kwessie van vyf jaar kan sit met ‘n totaal ongedissiplineerde gemeenskap wat geen gevoel of respek vir ander se lewens of eiendom sal hê nie.
Luidens die verslag was ‘n totaal van 479 leerlinge betrokke by verskeie misdade soos die besit van onwettige middels en die handeldryf daarin, boelie en kuberboelie, aanranding van onderwysers of personeel, aanranding van leerlinge met die doel om ernstig te beseer, bedrog, besit van gevaarlike wapens, seksuele teistering, diefstal en poging tot moord.
Die VF Plus plaas die verval van skole reg voor die deur van Lesufi. Dié optrede van leerlinge bevestig opnuut dat hy totaal en al onbevoeg is om as LUR op te tree en dat hy dadelik uit sy pos verwyder moet word.
Die verslag is ‘n duidelike bewys dat Lesufi se politieke inmenging in skole tot gevolg het dat leerlinge geen respek meer het vir enige reël en regulasies of wet en orde nie.
Die VF Plus bedank nogtans onderwysers vir die werk wat hul probeer verrig onder die huidige haglike omstandighede in Gautengse skole en ook skole en leerlinge wat wel respek betoon vir reëls en regulasies en dit toepas.
Leerlinge en skole wat respek het vir wet en orde sal eendag uitstyg as die verantwoordelike leiers van hierdie land.
Kontakbesonderhede: 060 556 4347
Gauteng skole: Gedragskode moet bly
2016-08-31
Philip van Staden
Die VF Plus is bekommerd dat die LUR van onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, summier gedragskodes by skole in Gauteng wil opskort. Die besluit kom na aanleiding van gebeure die afgelope twee dae by die Pretoria High School for Girls.
Die party se LPW in Gauteng, mnr. Philip van Staden, sê in reaksie hierop gedragskodes by skole moet behoue bly en dat ons samelewing georden moet word deur reëls en regulasies. Gedragskodes leer kinders van jongs af om respek vir hulself en hul medemense te verkry, om reëls en regulasies te eerbiedig en om sodoende wet en orde in 'n samelewing tot stand te bring.
Die VF Plus is bekommerd dat sonder gedragskodes, leerlinge in skole heeltemal handuit sal ruk en 'n situasie sal skep waar onvolwassenes volwassenes gaan hiet en gebied. Lesufi se ingryping hierdie week op aandrang van leerlinge wat nog nie volwasse is en ingeligte besluite kan neem nie, is reeds rede tot erge kommer.
"Die VF Plus is teen enige vorm van rassisme en diskriminasie gekant maar ek dink nie die LUR het dadelik agter die kap van die byl gekom nie. Ek dink hy het net soos altyd gehardloop met 'n saak om 'n punt en sy krag as LUR te bewys sonder om die nodige inligting in te samel en te beoordeel. In hierdie geval voel ons dat die LUR ook onvolwasse opgetree het".
Van Staden sê dat almal op skool tot op hede aan gedragskodes onderhewig was en niemand het iets daarvan oorgekom nie. Die vraag is waarom dit nou skielik 'n probleem is.
"Die LUR is ook aan 'n gedragskode onderhewig in die Gautengse Wetgewer net soos enige ander LUR, LPW, LP of raadslid van enige vorm van regering in Suid-Afrika. Indien hy gedragskodes by skole afskaf druis dit lynreg in met die eed wat hy afgelê het met sy inswering as LUR in 2014," sê Van Staden.


