Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Zuma-standbeeld met boorgat by Groot Marico opgerig terwyl dorp droogloop

Die standbeeld met ‘n boorgat wat vir president Jacob Zuma by Groot Marico opgerig is, is ‘n klap in die se gesig van plaaslike inwoners wat maande reeds gebuk gaan onder erge waterprobleme en soms vir tot drie dae lank geen watertoevoer het nie, sê Michal Groenewald, VF Plus-leier in Noordwes.

Groenewald sê die standbeeld is opgerig ter herdenking aan die plek waar Zuma in Junie 1963 in hegtenis geneem is weens sy aandeel in die veldtog van terreur teen Suid-Afrika en sy inwoners.

Hy sê die boorgat waar die gemeenskap glo water kan gaan haal, is waarskynlik ook ‘n front vir ‘n reuse tenderkontrak wat aan ‘n kader of twee toegeken is.

“Die VF Plus het in Maart vanjaar die besluit van die Noordwes-provinsiale regering om die tender-uitnodiging vir die oprigting van die Zuma-gedenkwaardigheid terug te trek verwelkom en het met verbasing verneem dat die projek daarna op ‘n sluwe wyse by die provinsiale departement van sport, kuns en kultuur se Groter Erfenisroete ingesluit is.

“Die boorgat wat by die standbeeld aangebring is, is ‘n totaal lagwekkende gebaar wat nie die waterkrisis van die gemeenskap enigsins volhoubaar aanspreek nie.

“Die provinsiale regering het ook al die raadslede van elke munisipaliteit in die provinsie genooi om die bekendstelling by te woon. Vervoer sal aan almal verskaf word. Dit is ‘n blatante vermorsing van belastingbetalers se geld wat beter aangewend kon word om byvoorbeeld die pompstelsel vir Groot Marico op te knap.

“Die VF Plus sal alle moontlike stappe volg om die tendertoekenningsproses bloot te lê, enige ongerymdhede te ontbloot en om seker maak dat die skuldiges verantwoording doen vir hul knoeiery. Ons veg steeds voort vir ‘n daadwerklike oplossing vir die waterkrisis in Groot Marico,” sê Groenewald.

Kontakbesonderhede: 079 409 8342

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.