fbpx
Vryheidsfront Plus

Ysere wil red moontlik bejaarde plaasvrou van Vanwyksvlei terwyl ‘n ander in dieselfde voorval sterf

‘n Voorval waarin ‘n bejaarde vrou op ‘n plaas in die Vanwyksvlei-distrik in die Noord-Kaap deur ‘n werknemer aangeval is, stuur skokgolwe deur dié andersins veilige omgewing. Net die ysere wil van die 79-jarige mev. Marie de Bruyn het moontlik haar lewe gered.

In dieselfde voorval het die aanvaller sy eie vrou doodgeskiet met ‘n geweer wat hy in die aanval op mev. De Bruyn geroof het.

De Bruyn, wat saam met haar dogter en dié se gesin op die plaas woon, was alleen tydens die voorval. Die werker het vroegoggend in haar slaapkamer verskyn nadat hy by die huis ingebreek het. Hy het haar met 'n piksteel aangerand en gedwing om die kluis oop te maak.

Hy het 'n jaggeweer uit die kluis geneem en me. De Bruyn gedwing om hom na sy huis, elders op die werf, te vergesel waar hy sy vrou koelbloedig doodgeskiet het.

De Bruyn het die man ernstig aangespreek en na haar huis gestap waar sy geskuil het tot hulp opgedaag het.

Die rede vir die koelbloedige moord is nog onbekend, maar is nog 'n voorbeeld van die tragedie van geslagsgegronde geweld wat Suid-Afrika in sy greep het.

Vanwyksvlei is die sentrum van 'n uitgestrekte en yl bevolkte landbougebied – selfs volgens Karoo-standaarde. Veediefstal is 'n groot probleem, asook alkoholverwante misdaad. Dit word deur 'n gebrek aan ekonomiese geleenthede vererger.

Die VF Plus doen ‘n beroep op plaasbewoners, selfs in 'n rustige omgewing, om nooit hul veiligheid as vanselfsprekend te aanvaar nie.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.