Die veelparty-regering van die Johannesburgse metroraad, waarvan die VF Plus deel is, het gesamentlik besluit om die gebeure waar raadslede gistermiddag deur oproerige ANC- en EFF-raadslede beseer is, te ondersoek.
Ontevredenheid vanuit ANC-geledere het begin toe hulle nie daarin kon slaag om hul partyleier verkies te kry as ‘n voorsitter van enige van die metroraad se oorsigkomitees nie.
Die ANC het alles in sy vermoë gedoen om te verhinder dat die verkiesing met die opsteek van hande plaasvind en het daarop aangedring dat die proses met ‘n geheime stemming plaasvind.
Die gebruik van die opsteek van hande tydens stemmery is deur die ANC gedurende sy tydperk aan beheer in gebruik gestel. Dit was ook die gebruik in 2016 toe ‘n koalisie-regering beheer van die metroraad oorgeneem het en is voortgesit deur die ANC na sy oorname in 2019.
Die speaker van die raad, Vasco da Gama, het volgehou dat daar nie van geheime stembriewe gebruik gemaak sal word nie waarna die vergadering in chaos ontaard het en koalisie-raadslede aangerand is.
Die VF Plus en sy koalisie-vennote sal die saak verder neem en alle opsies ondersoek om te voorkom dat die soort wangedrag en verbreking van staande reëls weer plaasvind.
Navrae: 082 358 3882