Die media het onlangs weer berig oor die Wonderboom-lughawe se probleme rakende aantygings van korrupsie, onregmatige aanstellings van eksterne kontrakteurs en tenderbedrog.
Die VF Plus is van mening dat daar ‘n nuwe benadering met die bedryf van die lughawe gevolg sal moet word, aangesien alle vorige pogings om dit reg te ruk, op niks uitgeloop het nie. Dringende ingryping is van kritieke belang aangesien die lughawe in sy huidige vorm die belastingbetaler van die Tshwane-metro onnodig geld kos.
Die Wonderboom-lughawe beleef reeds ‘n geruime tyd ‘n afwaartse kurwe. Bewerings van korrupsie het gelei tot die afgradering van die lughawe se status vanaf kategorie 5 na kategorie 2. Die lughawe is ook in ‘n stadium verlede jaar gesluit weens ‘n veiligheidsrisiko.
Die nuwe benadering sal vereis dat daar met die belanghebbendes by die lughawe self gekonsulteer moet word om die tekortkominge van grondvlak af aan te spreek.
Die VF Plus verstaan dat daar reeds ‘n omvattende ondersoek deur konsultante gedoen is, maar dat die aanbevelings nie aan die metroraad gekommunikeer is nie. Die verslag moet dringend beskikbaar gestel word sodat alle opsies oorweeg kan word.
Die VF Plus sal alles in sy vermoë doen om die huidige situasie reg te ruk.
Kontaknommer: 072 815 4053


