Die beoogde herafbakening van die munisipale grense van die Midvaal-, Emfuleni- en Lesedi-munisipaliteite in Gauteng behoort geskrap te word nadat dit bekend geword het dat die voorsitter van die munisipale afbakeningsraad, Landiwe Mahlangu, op rade en direksies dien wat dienste aan die regering en spesifiek Emfuleni verskaf, sê mnr. Jaco Mulder, VF Plus-LPW vir Gauteng.
Die feit dat Mahlangu klaarblyklik ondermeer op die rade van Sea Key Holdings en Interwaste dien wat sake met die Emfuleni-munisipaliteit doen, trek ‘n streep deur die geloofwaardigheid van die afbakeningsraad en behoort ondersoek te word.
Die VF Plus het reeds op 17 April 2013 by die afbakeningsraad appèl aangeteken nadat openbare verhore tussen 7 en 11 April 2013 binne die twee munisipale gebiede en verskeie ander sentra in Suid-Afrika, gehou is. Die voorsitter van die munisipale afbakeningsraad, mnr. LJ Malhango, het die kennisgewing tot openbare verhore eers op 3 April 2013 onderteken – minder as 6 dae voordat die openbare verhore sou plaasvind en die publieke kennisgewings in nuusblaaie is so laat as op Sondag 7 April 2013 gepubliseer.
Die appèl is geskoei op die gees van die Suid-Afrikaanse grondwet soos vervat in artikel 33 wat in geen onduidelike terme die reg op billike administratiewe aksie reël in paragraaf 1, 2 en 3 en die Wet op die Bevordering van Billike Administrasie “PAJA”, wet 3 van 2000.
Dit is nou duidelik dat Mahlangu geen objektiewe bydrae tot die proses kon lewer nie.
Jaco Mulder, LPW
082 466 3786