Mogale City (Krugersdorp) se waterbestuur is in so ‘n geweldige krisis dat dit die koalisieregering baie geld en tyd gaan kos om weer op koers te kom.
Rdl. Amanda de Lange, VF Plus-raadslid, sê die nalatenskap van die vorige regering is vernietigend en daar is beslis geen kitsoplossing nie. “Ek het die raad herhaaldelik gewaarsku en daar is selfs op die VF Plus se aandrang ‘n besoek gebring aan al die probleem gevalle, maar min is gedoen.”
Sy skryf die hoofrede toe aan die vorige bedeling se swak bestuur en die raad se weiering om weer die BIQ- rekeningsisteem te gebruik. Tans word daar van twee sisteme gebruik gemaak, wat onafhanklik van mekaar bedryf word. “Die VF Plus het gevra dat geen dienste van belastingbetalers opgeskort word totdat die finansiële stelsel nie ten volle in werking is nie.”
Sy sê voorts dit is onregverdig teenoor die huiseienaars wat probeer water spaar terwyl groot waterverbruikers nie by die reëls hou nie. Volgens ‘n verslag van Utility Management Services (UMS), ‘n maatskappy wat onder andere verantwoordelik is vir meterlesings in die dorp, is verskeie groot maatskappye en landgoedere (estates) nie in besit van ‘n grootmaat-waterverbruikmeter nie. Dit is dus onmoontlik om vas te stel hoeveel water die kompleks of besigheid gebruik en hoeveel verlore gaan.
“Dit is ook nou ‘n toenemende gebruik in Mogale City om ‘n staalboks om jou watermeter te bou en te sluit sodat ‘n meterleser nie die lesing kan doen nie. Baie watermeters is ook binne die kompleks en binne in erwe wat dit onbereikbaar maak.
“Nog ‘n probleem is dat die voorafbetaalde water se data net op ‘n rekenaar by die Water en Sanitasie-kantore geberg word. Niks is op ‘n stelsel beskikbaar sodat die inligting deur byvoorbeeld die finansiële departement gebruik kan word nie.
“Gedurende die raad se besoek aan omstrede besighede is watermeters gevind wat nie aan die stadsraad behoort nie, ander meters was diep onder die grond begrawe en ‘n hele paar foutiewe meters is gevind. Die raad het en is steeds besig om met die maatskappye te praat. Rdl. De Lange sê dit is skokkend om te sien hoeveel van die grootste waterverbruikers het wel rekeningnommers by die raad, maar daar is eenvoudig nooit lesings geneem en ingevoer op enige van die munisipale stelsels nie.
Selfs die kritieke probleme wat deur die kontrakteur aan Mogale City uitgewys was op verskeie vergaderings is nooit deur die vorige ANC-munisipale bestuur aangespreek nie. Volgens De Lange is dit hoogs ongerymd en sy het op verskeie finansiële portefeuljekomitee-vergaderings die kwessie opgeneem met die vorige finansiële bestuur.
De Lange sê die geweldige waterverliese en verliese aan miljarde rande se inkomste vir die munisipaliteit gaan dringend deur die koalisieregering waarvan die VF Plus deel is, opgelos word. Dit is egter frustrerend dat die ANC tot dusver alles in hulle vermoë doen om die nuwe koalisieregering omver te werp.
Mogle City kan slegs ‘n wen-stad word wanneer die foute en onbevoegdheid van die verlede met wortel en tak uitgeroei word.
Tel: 071 604 9498