fbpx
Vryheidsfront Plus

Water in Hartswater en Jan Kempdorp nie geskik vir menslike gebruik

Die gemeenskappe van Hartswater en Jan Kempdorp in die Noord-Kaapse Phokwane-plaaslike munisipaliteit ondervind nou al maande lank periodiek probleme met vuil water vir huishoudelike gebruik. Die situasie het sedert Januarie 2021 met rasse skrede versleg.

Dit kom nadat die vorige, wanfunksionele Phokwane-munisipale raad ontbind en 'n nuwe raad in November 2020 verkies is.

Die VF Plus (wat met in November 2020 tot die raad verkies is) word daagliks oorval van inwoners wat kla oor huishoudelike water met 'n bruin kleur en ‘n onaangename reuk. Dit word as ‘n duidelike aanduiding beskou dat die water gesondheidsrisiko’s mag inhou. Inwoners is selfs versigtig om daarin te bad.

Die party het op versoek van die gemeenskap ‘n dringende versoek gerig aan mnr. Bamba Ndwandwe, die administrateur, om ‘n vergadering tussen homself, mnr. Kevin Khoabane, die hoof finansiële beampte, die burgemeester, die raadslede vir die twee wyke en die gemeenskap te belê.

Weens die erns van die situasie, is die administrateur 48 uur gegun om die vergadering te belê. Die doel daarvan is om die gemeenskap se griewe te bespreek en ‘n werkbare oplossing vir die probleem te vind.

Die huidige situasie kan nie verder geduld word nie. Die versuim van die munisipaliteit om sy grondwetlike plig na te kom om water wat geskik is vir menslike gebruik aan die gemeenskap te lewer, stel nou mense se gesondheid en lewe in gevaar.

Suid-Afrika gaan tans gebuk onder ‘n tweede vlaag Covid-19-infeksies wat juis veroorsaak dat persone met verswakte immuunstelsels uiters kwesbaar is.

Plaaslike regerings kan nie toegelaat word om menselewens op hierdie wyse in gevaar te stel nie.

Die VF Plus het onderneem om ‘n gemeenskapsvergadering te belê met of sonder die teenwoordigheid van ‘n munisipale afvaardiging.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.